Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die langverwagte vonnisoplegging van die ma en dogter wat die bejaarde paartjie, George Michaels (62) en sy vriendin, Elizabeth Rudolph (64) in Michaels se huis in Diepkloof, op Heidelberg vermoor het, is uiteindelik Donderdag, 24 Maart in die Kaapse Hoogeregshof gelewer.
Annemarie Skietekat (32) en haar ma, Sabina Hartnick (55) is deur regter Hayley Slingers op 25 November verlede jaar skuldig bevind op twee aanklagte van moord.
Hulle is onderskeidelik twee lewenslange vonnise opgelê, wat samelopend uitgedien word. Dit beteken dat hulle 'n minimum van 25 jaar elk moet uitdien.
Die moorde is gedurende die nag van 15/16 Februarie 2019 gepleeg, waar albei slagoffers meer as 20 steekwonde toegedien is. Rudolph het ook sigaret-brandmerke op haar geslagsdele gehad.
Hartnick, 'n jaloerse eks van Michaels dien reeds drie jaar tronkstraf uit nadat sy op 'n vorige klag van aanranding op Michaels met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind is.
Slingers het tydens die vonnisoplegging benadruk dat die beskuldigdes elkeen aan twee aanklagte van moord skuldig bevind is. Die bepalings van artikel 51 (1) van die Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997 (soos gewysig) is van toepassing op die skuldigbevindings omdat die hof bevind het dat die moorde deur die beskuldigdes gepleeg is wat opgetree het ter bevordering van 'n gemeenskaplike doel.
"Gevolglik is die voorgeskrewe minimum vonnis lewenslange gevangenisstraf, tensy die hof bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede is wat afwyking daarvan regverdig," het Slingers gesê.
Hy het ook aangedui dat die getuienis van Joan Gouws, 'n buurvrou van die oorledenes deur die hof aanvaar is en dat Hartnick bereid was om haar dogter op te offer, omdat sy al die blaam op Skietekat geplaas het.
"Dit is nie die aksie van 'n berouvolle persoon, veral van 'n moeder nie," het hy beklemtoon en bygevoeg dat die proefbeampte se verslag gemeld het dat baie families deur die beskuldigdes groot leed aangedoen is.
Michaels se dogter, Maria Rossouw en Rudolph se seun, Pieter, asook haar werkgewers, Alroy en Cathy Windvogel het die verrigtinge bygewoon.
VIDEO: Ma en dogter kry lewenslange tronkstraf
Rudolph en Rossouw het hul tevredenheid met die vonnisse uitgespreek en gesê dat hulle nou eindelik met hul lewens kan voortgaan.
"Dit is soos 'n swaar las wat van my skouers af is en dit is hul verdiende loon het,' het Rudolph gesê.
Tydens die vonnisoplegging het ma en dogter emosieloos voor hulle uitgestaar. Hulle is na die Pollsmoor-gevangenis geneem, waarna hulle waarskynlik na Worcester of Malmesbury uitgeplaas sal word om hul vonnisse uit te dien.
Die staatsaanklaer, Megan Blows het haar tevredenheid met die vonnisse na die saak uitgespreek. Advokaat Fanus Harmse vir Hartnick was teenwoordig, terwyl adv Andrew Caiger vir Skietekat, afwesig was.
Sabina Hartnick (links) en Annemarie Skietekat tydens die verhoor verlede jaar in die die rondgaande Hooggeregshof op Swellendam.
Vorige artikels:
- Ma en dogter kry lewenslank
- Ma en dogter word skuldig bevind
- Moordverhoor nader einde
- Moordverhoor nader einde
- Moordverhoor duur voort
- Moordverhoor duur voort
- Ma en dogter uiteindelik voor hof
- Moord op bejaardes: Verhoor begin
- Moordverhoor begin nou
- Moordsaak weereens uitgestel
- Ma en dogter vandag in die Kaapse Hooggeregshof
- Ma en dogter wag vir DNS-uitslae
- Ma en dogter weer in hof
- Ma en dogter weer in hof oor grumoord
- Moordsaak uitgestel
- Bejaarde-moord: Ma en dogter kom voor
- Twee bejaardes is koelbloedig vermoor
- Twee bejaardes vermoor
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'