Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Annemarie Skietekat (32) en haar ma, Sabina Hartnick (55) het Maandag, 8 November in die Swellendam rondgaande hooggeregshof verskyn vir die moord op twee bejaardes.
Hulle is daarvan aangekla dat hulle vir George (Jors) Michaels en sy vriendin, Elizabeth (Elie) Rudolph, onderskeidelik 62 en 64 in Michaels se huis in Diepkloof gedurende die nag van 15/16 Februarie 2019 vermoor het.
Die saak dien voor regter Hayley Slingers. Advokaat Megan Blows is die staatsaanklaer. Advokate Fanie Harmse en Andrew Caiger tree onderskeidelik vir Skietekat, beskuldigde nommer een en Hartnick, beskuldigde nommer twee op.
Sersant Adri Buys van Heidelberg-polisie en Angilique van Niekerk, 'n buurvrou van beide oorledenes was die staat se eerste getuies.
Volgens Buys was hy die eerste polisielid op die toneel nadat hulle deur Van Niekerk telefonies gekontak was. Hy het verder genoem dat die veiligheidshek oopgestaan het, maar dat die voordeur gesluit was. Hy het toe vir meer lede aangevra.
Van Niekerk het die hof meegedeel dat haar ma, Joan Gouws wat ook bure van die oorledenes was, haar gevra het om die polisie te bel. Hartnick het vir haar gesê dat Skietekat die twee bejaardes doodgesteek het.
VIDEO: Moord op bejaardes: Verhoor begin
Die staat het net voor die hof Dinsdag verdaag het as gevolg van beurtkrag, hul derde getuie en buurman van die oorledenes, Junior Gouws geroep om getuienis te lewer. Sy getuienis is Woensdagoggend afgesluit.
Die volgende getuie, Joan Gouws het gesê dat Hartnick haar kom vra het om die polisie te bel nadat haar dogter die twee bejaardes vermoor het. Sy het op haar beurt haar dogter, Angilique gevra om te skakel omdat syself nie 'n foon gehad het nie. Hartnick het ook aan haar genoem dat Michaels in die huis op die bed en Rudolph op die vloer gelê het.
Volgende in die getuiebank was die forensiese fotograaf, sers Petrie Arries. Hy was verskoon om af te staan, weereens as gevolg van beurtkrag.
Die saak is tot gister, Donderdag 11 November uitgestel. Die patoloog wat die lykskouings uitgevoer het, sou dan in die getuiebank wees.
George (Jors) Michaels (62).
Elizabeth (Elie) Rudolph (64).
Lees vorige artikels hier:
- Moord op bejaardes: Verhoor begin
- Moordverhoor begin nou
- Moordsaak weereens uitgestel
- Ma en dogter vandag in die Kaapse Hooggeregshof
- Ma en dogter wag vir DNS-uitslae
- Ma en dogter weer in hof
- Ma en dogter weer in hof oor grumoord
- Moordsaak uitgestel
- Bejaarde-moord: Ma en dogter kom voor
- Twee bejaardes is koelbloedig vermoor
- Twee bejaardes vermoor
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'