SLANGRIVIER NUUS - Die gemeenskap van Slangrivier en die Kersfeeskore-gemeenskap het Sondag 1 November een van hul groot musiekikone verloor met die afsterwe van Dirk Fielies (67).
Fielies is ná ’n lang stryd teen kanker by sy huis oorlede.
Dié boorling van Slangrivier was wyd bekend en geliefd as ’n bedrewe saksofoonspeler wat reeds van kleins af dié musiekinstrument met oorgawe bespeel het.
Benewens sy betrokkenheid by sy tuisdorp se Kersfeeskoor, Loving Shepherds, het Fielies ook destyds in verskeie langarmorkeste gespeel, waaronder die bekende Serepters-orkes van Heidelberg.
Hy was ook aktief betrokke by die kerkkoor van St. Luke’s Anglikaanse Kerk, waar hy met sy diep basstem ’n waardevolle bydrae gelewer het.
Fielies het verder byna 20 jaar lank as opsigter by Slangrivier Primêr gewerk voordat hy ’n paar jaar gelede afgetree het.
Hy word deur vier seuns, agt kleinkinders, vier broers en twee susters oorleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’