RIVERSDAL NUUS - Terwyl miljoene Suid-Afrikaners Woensdag hul kruisies in die plaaslike regeringsverkiesing gaan trek het, het die 27-jarige Khanyiswa Nkuwana besluit om nie te stem nie.
Nie omdat sy nie omgee oor haar land se toekoms nie, maar omdat die mense wat haar lewe ses jaar gelede met vier koeëls onherroeplik verander het, volgens haar steeds vry rondloop.
Vir Nkuwana is geregtigheid belangriker as enige verkiesingsbelofte.
In 2020 was sy, soos duisende ander matrikulante, vol hoop en drome.
Sy het pas haar matriekeksamen afgelê en wou verder studeer om 'n onderwyser te word.
Haar lewe het onherroeplik verander toe sy vier keer tydens 'n gewapende rooftog by 'n onderneming in Khayelitsha, Kaapstad, geskiet is.
Volgens Nkuwana het die rowers haar een skoot op 'n slag geskiet terwyl hulle geld van die onderneming se eienaar geëis het.
Nadat die eienaar uiteindelik die geld oorhandig het, is hy doodgeskiet.
Nkuwana is vir dood agtergelaat.
Sy is in albei arms, haar rug en haar gesig getref.
Hoewel sy die aanval oorleef het en geen breinbesering opgedoen het nie, het die koeëls haar permanent verlam.
Die nuus wat sy later van die mediese personeel ontvang het, was verpletterend: Sy is 'n kwadrupleeg en sal nooit weer haar arms en bene normaal kan gebruik nie.
Die jong vrou wat daarvan gedroom het om voor 'n klaskamer te staan, is vandag vir feitlik elke fisieke behoefte van ander afhanklik.
Sedert 2021 is Nkuwana 'n inwoner van Goukam Health APD in Riversdal, waar sy voltydse versorging ontvang.
Haar gestremdheid het egter nie haar wil om iets van haar lewe te maak geblus nie.
Sy is die tehuis se winkelassistent en hanteer met die hulp van 'n helper die verkoop van klere aan klante.
Sy is ook verantwoordelik vir die balansering van die geld ná verkope.
Met behulp van 'n elektriese rolstoel wat sy met haar ken beheer, probeer sy so onafhanklik moontlik funksioneer.
'n Ma se grootste verlange
Agter Nkuwana se glimlag skuil egter 'n ma se hartseer. Haar 11-jarige dogter, Khayone, woon by haar ouma in Khayelitsha, en kan haar ma gewoonlik net twee keer per jaar besoek.
Nkuwana se grootste droom is nie rykdom of luukshede nie. Sy wil bloot eendag saam met haar dogter onder hul eie dak woon.
Omdat haar gestremdheid die gevolg van 'n misdaad en nie 'n padongeluk is nie, kom sy nie vir vergoeding deur die Padongelukkefonds in aanmerking nie.
Sy is gevolglik hoofsaaklik op 'n staatstoelaag aangewese om in haar behoeftes te voorsien.
Selfs 'n rit kliniek toe hou gevare in
Hoewel Nkuwana vol lof is vir die versorging wat sy by Goukam Health ontvang, bly die wêreld buite die tehuis se hekke 'n uitdaging.
Sy mag die dorp besoek en moet ook van tyd tot tyd na die Riversdal-kliniek vir wondbehandeling gaan. Vir iemand wat haar rolstoel met haar ken beheer, kan 'n ongelyke sypaadjie, los klippe of 'n besige straat egter 'n ernstige hindernis wees.
Volgens haar maak voertuie wat teen hoë snelhede ry, veral in strate sonder behoorlike sypaadjies, dit gevaarlik om rond te beweeg.
Die roete oor die treinspoor op pad na die kliniek is besonder moeilik om met haar rolstoel aan te durf.
Terwyl kiesers hierdie week hul stemme uitbring oor die toekoms van munisipale dienslewering, is toeganklike sypaadjies, veilige paaie en behoorlike infrastruktuur vir inwoners soos Nkuwana nie bloot verkiesingsbeloftes nie.
Dit bepaal of hulle veilig en met waardigheid in die gemeenskap kan rondbeweeg.
Vier inwoners trek wel hul kruisies
Nkuwana se besluit om nie te stem nie staan in kontras met dié van vier ander inwoners van Goukam Health wat vir spesiale stemme geregistreer het.
Hulle het Dinsdag 3 November hul stemme by die tehuis uitgebring.
Volgens Illze Olivier, bestuurder van Goukam Health, huisves die tehuis tans 10 inwoners, elk met unieke versorgingsbehoeftes. Die instelling speel 'n belangrike rol in die lewens van mense met gestremdhede, maar staan self voor aansienlike finansiële uitdagings.
Slegs 47% van die tehuis se finansiering word deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gedek.
Die oorblywende 53% moet deur fondsinsameling, skenkings en ander inisiatiewe verkry word.
Van die dringendste behoeftes is doeke vir volwassenes, die opknapping van ingeboude kaste, 'n hystoestel om inwoners veilig te verskuif en 'n geskikte bussie waarmee inwoners na mediese afsprake en op uitstappies vervoer kan word.
Die tehuis beskik ook oor 'n dagsorg-fasiliteit waar persone met gestremdhede gedurende die dag versorg word.
Dit bied families die geleentheid om hul daaglikse verpligtinge na te kom, met die wete dat hul geliefdes in veilige hande is.
Goukam Health se maatskaplike dienste strek boonop verder as Riversdal en ondersteun gesinne regoor die Hessequa-streek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’