STILBAAI - Na ’n Facebook-plasing oor ’n persoon wat gistermiddag, 31 Oktober, by die Palingsgat-wandelpad in Stilbaai aangeval is en wat wyd op sosiale media versprei het, kan die Suid-Kaap Forum bevestig dat die polisie ’n kriminele saak in verband met die voorval geopen het.
In ’n gesprek met AO Morné D’Emiljo, woordvoerder van die Stilbaai-polisie, het hy bevestig dat ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer geopen is.
"Dit is op hierdie stadium nog onduidelik waarmee die slagoffer tydens die struweling tussen hom en die aanvaller beseer is."
D’Emiljo het verder bevestig dat ’n arrestasie uitgevoer is en dat die verdagte tans in aanhouding is.
Ooggetuies en die ouers van die betrokke persoon is om kommentaar genader. Suid-Kaap Forum sal verdere inligting deel namate die storie ontwikkel.
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’