STILBAAI NUUS - Ná jare se diens aan die gemeenskap en ’n loopbaan waarin sy haar beywer het om ’n verskil te maak, is Elize Claassens se harde werk beloon met haar bevordering tot die rang van adjudantoffisier en aanstelling as administratiewe hoof by die Stilbaaipolisie.
Claassens, wat reeds sedert 1995 by die Stilbaai-polisie werk, het op 1 Oktober in haar nuwe pos begin.
Sy het 35 jaar diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en bring ’n rykdom ervaring na haar nuwe verantwoordelikhede.
Volgens Claassens is dit belangrik om ’n visie vir openbare sake te hê om die pos met passie te kan beklee.
Haar betrokkenheid by die gemeenskap strek egter verder as haar werk by die polisie.
Sy was oor die jare baie betrokke by gemeenskapsprojekte, veral by Badisa en Ouma Lena se Huis in Melkhoutfontein.
Sy sê sy mis dié projekte baie, maar fokus deesdae meer op die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en buurtwagprojekte.
Claassens se bydrae is ook al deur die jare erken. Sy is in 2014 en 2016 deur die Wes-Kaapse polisie as vrou van die jaar aangewys en is ook deur die Stilbaai-VLV vereer.
Kapt. Johan van Tonder, stasiebevelSonia Wahl voerder van die Stilbaai-polisie, beskryf Claassens se bevordering as ’n welkome beloning vir haar harde werk oor die afgelope paar jaar.
Met nog ses jaar se diens voor haar, lê daar steeds tyd vir verdere groei in haar loopbaan.
Haar kollegas moedig haar aan om verder te studeer en vir bevordering tot kaptein aansoek te doen.
Vir eers is Claassens egter tevrede met haar nuwe pos, en baie dankbaar vir die erkenning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’