HEIDELBERG NUUS - Die Heidelberg-polisie het onlangs tydens twee afsonderlike operasies op vermeende dwelmhandelaars toegeslaan en op dwelms en drank met 'n geskatte totale waarde van R4 500 beslag gelê.
Volgens sers. Keeno Fredericks, plaaslike polisiewoordvoerder, het lede van die D-skof, onder leiding van AO Gerhard Swart, tydens 'n operasie in Joe Slovo-park 'n 54-jarige man in besit van verskeie soorte dwelms betrap.
Die dwelms se geskatte waarde beloop sowat R2 000.
Tydens 'n tweede operasie in Diepkloof is 'n 56-jarige man glo in besit van dwelms en drank met 'n geskatte waarde van R2 500 betrap, het Fredericks gesê.
Albei verdagtes is in hegtenis geneem en het die daaropvolgende Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die huidige stand van dié sake is nog onbekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’