SWELLENDAM NUUS - Daar heers groot opgewondenheid in die landbougemeenskap nadat Neethling Dippenaar van die plaas Diptka in dié distrik onlangs as een van drie finaliste in Graan SA se Graanprodusent van die Jaar-kompetisie vir 2026 aangewys is.
Neethling se aanwysing plaas ook die kollig op die harde werk en toewyding wat agter graanproduksie skuil.
Die organiseerders sê sukses berus nie net op 'n goeie oes nie, maar ook op die talle besluite wat deur die loop van die jaar geneem moet word om 'n boerdery volhoubaar en produktief te hou.
Van saad tot silo: Deeglike beplanning is die sleutel
Volgens Neethling verg suksesvolle graanboerdery veel meer as om saad in die grond te plant en op reën te hoop.
Dit vereis deeglike beplanning, doeltreffende bestuur en die vermoë om elke deel van die produksieproses op die regte tyd bymekaar te bring.
Neethling het aan Hoërskool Swellendam gematrikuleer en 'n BCom-graad in Landbouekonomie, gevolg deur 'n BCom-honneursgraad in Logistieke Bestuur, aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Nadat hy sy honneursgraad voltooi het, het hy in 2007 by die familieboerdery, MC Dippenaar, op Diptka aangesluit. Hy vertel dat sy akademiese agtergrond besonder handig te pas kom wanneer hy besluite oor die boerdery moet neem.
Doeltreffende bestuur maak die verskil
In 'n ekonomiese omgewing waar elke inset geld kos, kan swak beplanning duur gevolge hê.
Daarom is dit volgens hom noodsaaklik om beskikbare hulpbronne verstandig te bestuur en te verseker dat mense, masjinerie en tyd doeltreffend benut word.
"Jy moet effektief wees. As die basiese dinge op die regte tyd gebeur, is jy reeds 90% van die pad daar.
Dit verg egter dat verskillende aspekte van die boerdery goed gekoördineer word," sê hy.
Hoewel die aanwysing as finalis 'n besondere mylpaal in sy loopbaan is, beskou Neethling dit as 'n groot voorreg om elke dag in 'n bedryf waarvoor hy 'n groot liefde en passie het, te kan werk.
Sy fokus bly op die daaglikse werk wat nodig is om die familieboerdery voort te sit en verder uit te bou.
Die familieboerdery verteenwoordig immers veel meer as net 'n onderneming.
Dit is 'n nalatenskap wat oor vier geslagte heen opgebou is en waarin harde werk, kennis en 'n liefde vir die landbou diep gewortel is.
Vier geslagte se boerdery-erfenis
Neethling se pa, Michael Dippenaar (74), is besonder trots op sy seun.
Hy vertel dat Neethling se aanwysing vir hom as pa reeds 'n groot eer en prestasie is.
"Neethling is 'n uitstekende graanboer, en dit is vir my 'n absolute voorreg om saam met hom te boer."
Michael vertel dat sy oupa die grond in 1921 aangekoop het. Oor die afgelope 25 jaar het die boerdery dramaties verander: van 'n tradisionele gemengde boerdery met graan en hoofsaaklik merinoskape op weiding tot 'n boerdery met 'n groter fokus op graanproduksie.
Sedert 2011 word die veekomponent van die onderneming op natuurlike veld in die Karoo bedryf.
Die familieboerdery het sedert 2007 aansienlik uitgebrei.
Benewens die familieplase in die Swellendam-omgewing is daar mettertyd ook grond in die Rûens-, Klipdale-, Napier- en Bredasdorp-omgewings bygevoeg.
"Dit is geweldig interessant en opwindend om te sien hoe Neethling die geleenthede aangryp.
Sy fokus is om die gesondheid en potensiaal van die grond optimaal te bestuur," vertel Michael.
Buite die boerdery is Neethling ook 'n trotse pa van drie.
Sy vrou, Marina, staan hom deur dik en dun by.
Michael vertel met trots dat sy kleinseun, Mike, wat eendag die vyfde geslag op die plaas kan verteenwoordig, reeds dieselfde passie vir die boerdery toon.
"Hy is nou in gr. een, maar sal gou vir jou sê as iets nie vir hom reg lyk nie," sê Michael.
Neethling is ook dankbaar vir die ondersteuning en aanmoediging wat SSK en Graan SA hom oor die jare gebied het.
Hy bedank veral sy pa, wat steeds 'n belangrike rol in die boerdery se sukses speel en hom die geleentheid bied om sy passie uit te leef.
Dit is tans oestyd, en Michael is van vroeg tot laat agter die stuur van een van die masjiene te vinde.
Vir hom is boerdery veel meer as net werk: dit is 'n passie, 'n lewenswyse en 'n nalatenskap wat hy help bewaar en vir die volgende geslag verder uitbou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’