HEIDELBERG NUUS - Verkeer op die N2 buite Heidelberg word ontwrig nadat die sleepwa van ’n swaarvoertuig omgekantel het en die pad versper.
Motoriste word gewaarsku om vertragings te verwag terwyl pogings aangewend word om die pad weer vir verkeer oop te stel.
Die ongeluk het omstreeks 09:05 in die omgewing van Vleidam, sowat 10 km buite Heidelberg, plaasgevind.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.
Volgens sers. Keeno Fredericks, mediabeampte van die Heidelberg-polisie, is die N2 vir verkeer gesluit terwyl die sleepwa verwyder word.
Motoriste wat vanaf Vleidam in die rigting van Heidelberg reis, word van die N2 af deur die dorp herlei.
Dieselfde reëling geld vir verkeer in die teenoorgestelde rigting.
Lede van die Heidelberg-polisie en provinsiale verkeersbeamptes is op die toneel om die situasie te bestuur en motoriste langs die alternatiewe roetes te begelei.
Motoriste word versoek om geduldig te wees, die aanwysings van verkeersbeamptes te volg en rekening te hou met moontlike vertragings.
Dit is nog nie bekend wanneer die N2 weer volledig vir verkeer oopgestel sal word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’