RIVERSDAL NUUS - 'n Skerp styging in aanrandings, ernstige aanrandings en gesinsgeweld wek kommer by die Riversdal-polisie, aangesien gewone aanrandings met 57% toegeneem het.
Volgens die Riversdal-polisie se mediawoordvoerder, sers. Christiaan Jansen, toon die jongste misdaadsyfers dat aanrandings veral op Sondae tussen 00:00 en 03:00 voorkom.
Ernstige aanrandings, waarby onder meer wapens of ander voorwerpe gebruik word, het met 48% gestyg.
AO Hans Busch van die Riversdal-polisie sê die aard en plek van dié voorvalle het ook verander.
Volgens hom vind minder van die voorvalle op straat plaas en kom dit eerder op privaat eiendomme en by kuierplekke voor.
Hy skryf dit onder meer toe aan sigbare polisiëring en optrede om die dorp se strate veiliger te maak.
Die polisie doen 'n beroep op inwoners om verantwoordelik op te tree wanneer hulle kuier, en om hulself eerder tot veilige omgewings te beperk.
Indien 'n rusie ontstaan en dit lyk of die situasie gewelddadig kan raak, moet die polisie betyds ontbied word en nie eers nadat 'n aanranding reeds plaasgevind het nie.
Busch waarsku dat aanranding 'n ernstige oortreding is.
'n Kriminele rekord kan 'n persoon ook later benadeel, onder meer wanneer daar om werk aansoek gedoen word en agtergrondondersoeke gedoen word.
Gesinsgeweld het volgens die Riversdal-polisie ook met 20% toegeneem, en alkoholmisbruik speel in baie van dié voorvalle 'n rol.
Busch sê talle huishoudelike rusies kan ontlont word voordat dit tot geweld eskaleer.
Die meeste van dié voorvalle word volgens die polisie in Sektor 1 aangemeld.
Dié sektor sluit onder meer Aloeridge, Morestond, Beverly Hills, Riverville, Melrose Place en die Panorama-uitbreiding in.
Inwoners word ook gemaan om waardevolle items veilig weg te sluit en dit nie sigbaar in voertuie of huise te laat rondlê nie.
Die Riversdal-polisie waarsku verder teen internetbedrog.
Inwoners moet veral versigtig wees om geld oor te betaal vir items wat aanlyn geadverteer word, maar wat hulle nie self gesien of behoorlik geverifieer het nie.
Volgens die polisie word al hoe meer inwoners deur dié soort bedrog uitgevang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’