HESSEQUA NUUS - Rugby is vir Jason Liebenberg (29) veel meer as net 'n sport. Dit is 'n passie wat van kleins af deel van sy lewe is en hom deur uitdagings, opofferings en hoogtepunte gelei het.
Liebenberg, wat onlangs as die Heidelberg-rugbyklub se Sportsman van die Jaar 2026 aangewys is, glo dat harde werk, dissipline en die ondersteuning van sy geliefdes die grondslag van sy sukses vorm.
Hy het in 'n rugbyfamilie grootgeword.
Sy ma het self rugby gespeel, terwyl sy pa in sy rugbydae 'n skrumskakel was.
Dit was dus byna vanselfsprekend dat rugby sy geliefde sport sou word.
"Sport was van kleins af deel van my lewe.
Ek het as kind rugby gespeel en was ook 'n atleet, maar rugby het altyd 'n spesiale plek in my hart gehad," vertel hy.
Liebenberg se rugbyloopbaan het reeds op 'n jong ouderdom begin, en deur die jare het hy hard gewerk om sy spel te verbeter.
Die geleentheid om vir Suidwestelike Distrikte (SWD) te speel en later vir die Boland-groep gekies te word tel onder die hoogtepunte van sy loopbaan.
Hy speel tans as heelagter (nommer 12) vir die Heidelberg-rugbyklub, waar hy ook as kaptein die span aanvoer.
"Een van my grootste hoogtepunte was om vir SWD te speel en om vir die Boland-groep gekies te word.
Dit is iets waarop ek baie trots is, want dit wys dat harde werk en deursettingsvermoë jou ver kan bring," sê Liebenberg.
Soos enige sportman het hy ook uitdagings en moeilike tye beleef.
Volgens hom is dit juis die vermoë om aan te hou wanneer dinge nie volgens plan verloop nie, wat 'n mens sterker maak.
"Ek het geleer om nie maklik op te gee nie en om altyd in myself te glo."
Familie is die dryfkrag agter sy sukses
Benewens sy rugbyverpligtinge werk Liebenberg by die Sentraal-Suid Koöpe-rasie (SSK) in Albertinia.
Om sy werk en sportloopbaan te balanseer verg goeie tydsbeplanning, opoffering en die ondersteuning van sy gesin.
"Dit is nie altyd maklik nie, maar as jy 'n passie vir iets het, maak jy tyd daarvoor.
My gesin se ondersteuning maak dit ook baie makliker," vertel hy.
Sy vrou, kinders, ma en die gemeenskap speel almal 'n belangrike rol in sy sportloopbaan.
Sy ma mis selde 'n wedstryd en ondersteun hom al van kleins af.
Sy het altyd in hom geglo.
"My vrou en kinders is my grootste ondersteuners. Hulle gee my die krag om aan te hou en harder te werk.
My kinders sê altyd: 'My pa is Jason Liebenberg!' Veral wanneer hulle saam met ander kinders speel.
Dit gee my 'n besondere dryfkrag om aan te hou en my beste te lewer."
Vir Liebenberg is die benoeming as sportman van die jaar baie spesiaal.
"Dit beteken vir my ongelooflik baie.
Dit is 'n groot eer om erkenning te kry vir iets waarvoor ek soveel liefde en passie het.
Dit wys dat al die harde werk, opoffering en ure op die rugbyveld nie verniet was nie."
Hy glo dat sy toewyding, dissipline en liefde vir rugby tot dié erkenning bygedra het.
As kaptein probeer hy steeds om sy spanmaats te ondersteun en 'n goeie voorbeeld te stel.
Hoewel Liebenberg reeds verskeie hoogtepunte in sy rugbyloopbaan beleef het, is sy ambisie nog lank nie uitgeput nie.
Hy wil graag vorder en sien hoe ver sy talent en harde werk hom kan neem.
"Ek het nog drome wat ek wil verwesenlik, en ek wil nie ophou groei as rugbyspeler nie.
Ek wil elke geleentheid wat oor my pad kom met albei hande aangryp."
Bly nederig en moet nooit moed opgee nie
Aan jong sportlui wat daarvan droom om eendag op dieselfde vlak te presteer, het Liebenberg 'n boodskap: glo in jouself, werk hard en bly nederig.
"Respekteer jou afrigters, spanmaats en die sport.
Daar gaan moeilike dae wees, maar moenie toelaat dat dit jou onderkry nie.
Onthou waar jy vandaan kom en bly nederig, maak nie saak hoe ver jy kom nie."
Vir hom gaan rugby oor veel meer as die spel self.
"Dit gaan oor familie, gemeenskap, opoffering, dissipline en die mense wat langs die veld staan en jou aanmoedig.
Ek is dankbaar vir elke persoon wat deel was van my pad tot hier."
Liebenberg beskou dié erkenning dan ook nie as 'n prestasie wat hy alleen behaal het nie, maar as 'n huldeblyk aan sy vrou, kinders, ma en almal wat deur die jare in hom geglo en hom ondersteun het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’