RIVERSDAL NUUS - Na aanleiding van Suid-Kaap Forum se aanvanklike Facebook-berig op Saterdag 14 November oor die ongeluk op die N2 by die Soetmelksrivier-draai, tussen Riversdal en die Stilbaai-afdraai, het James Jackson van Stilbaai, bestuurder van die Toyota Fortuner wat in die berig genoem is, die koerant op 17 November besoek om sy weergawe van die gebeure en die omstandighede rondom die botsing waarby sy voertuig betrokke was toe te lig.
In die aanvanklike berig is vermeld dat die Fortuner teen die omgeslane graanvragmotor gebots het.
Volgens Jackson se weergawe het hy egter reeds by die stop-en-ry-beheer stilgehou terwyl die verkeer deur die polisie en verkeerspolisie gereguleer is.
“Slegs een baan, vir verkeer vanaf Riversdal, was op daardie stadium oop terwyl daar gewag is dat die graanvragmotor weer op sy wiele geplaas word.
Terwyl ek by die verkeersbeheer gewag het, het ’n passasiersbus van agter in my voertuig vasgery,” vertel hy.
Jackson sê hy was baie geskok en ontsteld oor die voorval, maar is dankbaar dat hy die ongeluk oorleef het.
Volgens hom moes die nooddienste meganiese toerusting gebruik om een van die bus se deure oop te maak sodat die passasiers kon uitkom.
Die koerant het navrae aan die Suid-Kaap-polisiewoordvoerder, AO Chris Spies, gerig om verdere besonderhede oor die voorval te bevestig en meer inligting oor vorige ongelukke op die betrokke gedeelte van die N2 tussen Riversdal en die Stilbaai-afdraai te bekom.
Sy antwoord sal in ’n opvolgberig verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’