RIVERSDAL NUUS - As jong seun in Slangrivier het Gerald Boezak gesien hoe mense in 'n klein gemeenskap na mekaar omsien. Dit is iets wat hy nooit vergeet het nie.
Vandag, jare later, staan hy aan die stuur van Hessequa-munisipaliteit, met die verantwoordelikheid om nie net sy tuisdorp nie, maar duisende inwoners regoor die streek te dien.
Vir Boezak, wat die burge-meestersketting ná Grant Riddles se twee ampstermyne oorgeneem het, is dié aanstelling die verwesenliking van 'n lewenslange droom.
"Ek kom uit 'n klein gemeenskap waar ek geleer het dat leierskap nie gaan oor die posisie wat jy beklee nie, maar oor die mense wat jy dien."
In 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum sê Boezak sy oorlede pa sou besonder trots op hom gewees het.
"Dit is 'n oomblik wat ek met groot nederigheid en dankbaarheid ontvang."
Sy politieke loopbaan het in 2019 begin toe hy as raadslid vir wyk 4, wat Slangrivier en omliggende gebiede insluit, begin dien het.
Eerste 100 dae
Boezak sê sy eerste 100 dae sal op sigbare leierskap, veiligheid, gemeenskaps-betrokkenheid en strategiese beplanning fokus.
Met die Desember-vakansie om die draai wil hy verseker dat Hessequa se dorpe veilig, skoon en aantreklik vir inwoners en besoekers is.
Dit sluit sigbare wetstoepassing, padveiligheid en nouer samewerking met veiligheidsrolspelers in.
Hy beplan ook 'n strategiese beplanningsessie met die munisipale bestuurspan, en wil verseker dat bestaande projekte binne die huidige finansiële boekjaar afgehandel word.
"Ons bou voort op dit wat reeds goed funksioneer, maar ons moet ook bereid wees om nuwe uitdagings aan te pak."
Dienslewering en werkskepping
Hoewel Hessequa nasionale erkenning vir munisipale prestasie ontvang het, erken Boezak dat inwoners steeds uitdagings met infrastruktuur en munisipale tariewe ervaar.
Hy wil voortbou op beleggings in water- en elektrisiteitsinfrastruktuur, en tariewe so bekostigbaar moontlik hou sonder om die munisipaliteit se finansiële volhoubaarheid te benadeel.
Werkloosheid, veral onder jongmense, is ook 'n prioriteit.
Boezak beoog om die Uitgebreide Openbare Werke-program en jeugontwik-kelingsinisiatiewe uit te brei, en om in samewerking met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ekonomiese groei te bevorder.
Hy beklemtoon dat kleiner dorpe en afgeleë gemeenskappe nie agterweë gelaat mag word nie.
"Gelyke ontwikkeling beteken nie noodwendig dat elke dorp dieselfde ontvang nie, maar dat elke dorp volgens sy behoeftes regverdige en billike aandag geniet."
Nalatenskap
Boezak hoop inwoners sal hom ná sy vyf jaar ampstermyn onthou as 'n toeganklike burgemeester wat geluister en met integriteit gedien het.
"Ek wil hê inwoners moet eendag kan sê dat Gerald Boezak nie net 'n burgemeester was wat 'n amp beklee het nie, maar 'n leier wat werklik omgegee het."
Hy verbind hom tot deursigtige leierskap, verantwoordelike finansiële bestuur en billike dienslewering.
Sy leuse vir die volgende vyf jaar: Ons bou nie net aan 'n beter munisipaliteit nie, ons bou aan 'n beter toekoms vir elke inwoner van Hessequa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’