ALBERTINIA NUUS - ’n Kankerstaptog wat onlangs (Vrydag 30 Oktober) ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) aangebied is, het alle verwagtinge oortref toe 215 deelnemers hul steun aan die inisiatief toegesê het.
Die organiseerders het aanvanklik op sowat 50 deelnemers gehoop, en dit later na ongeveer 70 aangepas.
Tot hul groot verrassing het altesaam 215 mense vir die staptog ingeskryf.
Die gemeenskap se ondersteuning het nie daar geëindig nie.
Tydens die finale reëlings het drie plaaslike ondernemings spontaan besluit om bykomende skenkings ten bate van die inisiatief te maak.
Die organiseerders het hul dank teenoor Two-or-More Coffee Shop uitgespreek, wat die inskrywings behartig het en ook as die begin- en eindpunt van die staptog gedien het.
Spesiale dank is ook aan die verkeersdienste vir hul bystand en aan Gregory Clarry van die nooddienste vir sy teenwoordigheid tydens die geleentheid gerig.
Gelukkig was geen noodhulp nodig nie.
Die groot opkoms het volgens die organiseerders hul stoutste verwagtinge oortref en gewys hoe die gemeenskap van Albertinia saamstaan om die stryd teen kanker te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’