RIVERSDAL NUUS - Vir Rebecca Johnson-du Preez (60) is ’n bord warm kos vir ’n honger kind veel meer as net ’n maaltyd.
Dit is ’n teken van liefde, barmhartigheid en hoop.
Vanoggend het dié ma van vier, wat onder die inwoners as die ‘hartklop van Kwanokuthula’ bekend staan, haar eie stem laat tel - met die hoop dat die verkiesing ’n beter toekoms vir die kinders en werklose inwoners van Riversdal sal bring.
Johnson-du Preez, wat reeds ses jaar lank haar hart en siel in ’n sopkombuis vir minderbevoorregte kinders stort, sê haar grootste wens is dat meer werksgeleenthede geskep word en dat kinders weer veilig in die strate van hul gemeenskap kan speel.
Haar betrokkenheid by die gemeenskap het ses jaar gelede begin toe sy besef het hoeveel gesinne in Kwanokuthula onder werkloosheid en armoede gebuk gaan.
Sy het daagliks gesien hoe kinders, van wie baie uit behoeftige huishoudings kom, in die strate ronddwaal.
Dit was vir haar eenvoudig te veel om net toe te kyk.
Met die kookvaardighede wat sy oor die jare opgedoen het, het sy besluit om ’n sopkombuis te begin.
Haar doel was eenvoudig: om te verseker dat behoeftige kinders ten minste een voedsame maaltyd per dag ontvang.
Johnson-du Preez is ’n gebore Riversdaller en het aan die Hoërskool Gerrit du Plessis gematrikuleer.
Haar liefde vir kosmaak en haar ondervinding in die kombuis het sy deur die jare by verskeie ondernemings opgedoen, waaronder Die Padstal en Die Drie Pikkewyne op Jongensfontein.
Vandag gebruik sy dié vaardighede om ’n verskil in die kinders se lewens te maak.
Vir Johnson-du Preez is die kinders wat by haar sopkombuis aanklop nie bloot nóg monde om te voed nie.
Elkeen lê haar na aan die hart, en sy beskou hulle soos haar eie kinders.
Armoede bly ’n groot uitdaging
Volgens Johnson-du Preez is werkloosheid een van die grootste uitdagings waarmee die inwoners van Kwanokuthula daagliks worstel.
Baie huishoudings is afhanklik van maandelikse maatskaplike toelaes, wat volgens haar eenvoudig nie genoeg is om in die stygende lewenskoste en gesinne se basiese behoeftes te voorsien nie.
Dit is dikwels die kinders wat die swaarste daaronder ly.
Hoewel sy steeds skenkings van goedhartige gemeenskapslede ontvang, is dit nie voldoende om daagliks in die groeiende behoefte aan kos te voorsien nie.
Haar droom is om eendag genoeg ondersteuning te ontvang sodat sy elke dag sonder kommer ’n warm maaltyd aan die kinders kan voorsit.
’n Stem vir hoop en verandering
Toe Johnson-du Preez vangoggend haar stem uitbring was dit met die hoop dat die nuwe plaaslike leierskap aandag sal skenk aan die uitdagings waarmee gemeenskappe soos Kwanokuthula te kampe het.
Meer werksgeleenthede, veiliger strate en ’n beter toekoms vir die jeug is boaan haar wenslys.
Maar terwyl sy op verandering hoop, wag sy nie dat iemand anders die eerste tree gee nie.
Sy hou steeds aan om met die beperkte middele tot haar beskikking ’n verskil in haar gemeenskap te maak.
Gemeenskap se hulp dringend nodig
Johnson-du Preez doen ’n beroep op inwoners, ondernemings en organisasies om hul harte en hande oop te maak en haar sopkombuis te ondersteun.
Enige skenking, hetsy kos, bestanddele of ander benodigdhede, kan help om te verseker dat minderbevoorregte kinders nie honger hoef te gaan slaap nie.
Skenkings kan regstreeks by Johnson-du Preez in Kwanokuthula afgelewer word of by die Suid-Kaap Forum-kantore in Riversdal afgegee word.
Vir Johnson-du Preez gaan dit nie oor erkenning of vergoeding nie, maar oor die wete dat sy ’n verskil in ’n kind se lewe kan maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’