STILBAAI NUUS - Amy Hanekom (30) het op 10 Oktober drie medaljes by die Wes-Kaapse skopbokskampioenskap in Kaapstad verower, waar sy Stilbaai as deel van die Eden-span verteenwoordig het.
Dit was Hanekom se derde deelname aan die skopbokskampioenskappe.
Vyf spanne, naamlik Kaapstad, Wynlande, Oos-Kaap, Weskus en Eden, het aan die kompetisie deelgeneem. Sy het ’n goue medalje in ligte skopgeveg en twee silwer medaljes in deurlopende geveg en puntgeveg gewen.
Sy het in 2022 by die skopboksklub in Stilbaai onder leiding van Sensei Arries Visagie met die sport begin.
Haar pa, Daniel, sê sy is baie in haar skik met haar prestasie en dankbaar dat haar peetpa haar aan die sport bekendgestel het.
“Ek is ongelooflik trots en het nie woorde nie,” sê Daniel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’