HESSEQUA NUUS - Hoe oud is die indrukwekkende olienhoutboom by die Wild Rescue-natuurreservaat?
Ondanks kenners se meetwerk bly die antwoord tussen sy verweefde stamme en uitgestrekte takke versteek.
Lede van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika het die reservaat op Donderdag 15 Oktober besoek om dié raaisel te probeer ontrafel.
Robert Smith, voorsitter van die vereniging se Outeniqua-tak, het die groep gelei.
Die boom, wat naby die reservaat se dam groei, se breë, koepelvormige blaredak lok reeds geruime tyd belangstelling.
’n Besoeker met ’n akademiese agtergrond het vroeër bespiegel dat dit moontlik tot 1 000 jaar oud kan wees.
Die ondersoek kon dié vermoede egter nie bevestig nie.
Volgens die vereniging se verslag wissel die ouderdomsramings, na gelang van die berekeningsmetode en veronderstelde groeitempo, tussen 103 en 300 jaar, of selfd ouer.
Een van die uitdagings is dat die olienhout nie ’n enkele stam het nie.
Dit bestaan uit ’n hoofstam en vyf kleiner stamme wat feitlik van die basis af vertak.
Die span het die stamme met ’n tou en maatband op borshoogte gemeet.
Vier stamme se afmetings is met ’n formule tot ’n enkele, vergelykbare deursnee van sowat 69 cm verwerk.
Die boom se wortels en takke is boonop met dié van ’n groot witmelkhout verweef.
Dit groei naby ’n stroompie, en volgens die verslag kan die kalksteen en skalie daaronder toegang tot vlak grondwater bied.
Dit kon sy groei deur die jare beïnvloed het.
Onbekende faktore soos vorige brande, skade en langdurige droogtes bemoeilik die ouderdomsbepaling verder.
Die wortelbasis kan ook ouer as die huidige stamme wees.
’n Meer betroubare bepaling sal volgens die verslag verdere ondersoek, soos koolstofdatering of jaarringontleding, verg.
Sulke ondersoeke kan duur wees.
Die bevindings bied dus ’n voorlopige ouderdomsraamwerk, maar geen definitiewe antwoord nie.
Die moontlikheid dat die boom ’n duisend jaar oud is, bly onbevestig.
Vir die besoekende kenners het die onsekerheid egter niks aan die boom se waarde afgedoen nie.
Soos een groeplid ná die meetwerk opgemerk het: “Dit is ’n boom wat ons respek verdien!”
Wild Rescue het Smith en sy span vir hul tyd, kundigheid en uitvoerige verslag bedank.
Wild Rescue-natuurreservaat is op die plaas Klipfontein tussen Riversdal en Stilbaai, binne die Hannes Zaaiman-privaatnatuurreservaat.
Dit is sowat 40 km per pad van Riversdal en 30 km van Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’