RIVERSDAL NUUS - Vir 38 jaar lank werk Koos Jansen (60), beter bekend as Koppies, al vir dieselfde familie.
Koos was maar 21 jaar oud toe hy in 1988 as petroljoggie by die destydse Motors en Trekkers-dienstasie op die N2 by Riversdal begin werk het.
Dit was onder Frans Myburgh sr. dat sy werksloopbaan begin het, en hy het waarskynlik nooit gedroom dat hy byna vier dekades later steeds deel van dié familie se lewe sou wees nie.
Van die begin af het Koos gewys dat hy bereid is om hard te werk.
In 1996 is hy tot verkoopsman bevorder, en in 1999 het hy as toesighouer en instrukteur na die rybaan teruggekeer.
Hy het sy werk geken, en sy verantwoordelikhede het mettertyd uitgebrei.
In 2014 het Frans Myburgh jr. hom opgelei om die hele motorhawe te bestuur - van voorraadbestuur tot personeelbestuur.
Toe Frans jr. die motorhawe in 2022 verkoop het, het Koos se pad met die Myburgh-familie nie daar geëindig nie.
Frans het gereël dat Koos by die Van Riebeeck-motorhawe werk kry.
In 2024 het Frans eienaarskap van hierdie motorhawe oorgeneem, en die twee kon weer die pad vorentoe saam stap. Koos se seun, Pieter-John (31), het ook by die onderneming aangesluit.
Vir Koos was dit egter nog nooit net oor werk nie.
Oor die jare het sy verhouding met die Myburghs gegroei tot iets wat veel nader aan familie as aan 'n gewone werkgewer-werknemer-verhouding is.
Frans huiwer nie om Koos sy broer te noem nie.
"Hy is deel van die gesin.
Hy is my broer en ek is baie lief vir hom," sê hy.
Selfs Frans se ma, Rachel, praat van Koos as haar eie kind.
Sy onthou hom nog as die jong man wat destyds by hulle begin werk het.
"Ek raas vandag nog met hom as dit nodig is - nes met my eie kind," vertel sy met 'n glimlag.
Frans noem Koos die gesin se witbroodjie, en dié liefde kom van albei kante.
Koos beskou die Myburghs as sy eie familie en beskryf Frans as 'n pa-figuur wat hom deur die jare gehelp het om hoër hoogtes te bereik.
Koos vertel dat Frans hom gehelp het toe sy verantwoor-delikhede by die werk toegeneem het en hy vervoer nodig gehad het.
Frans het gesorg dat hy sy motorfietslisensie kry en het vir hom 'n Vuka-motorfiets as geskenk gekoop.
Later het hy vir Koos 'n Toyota Corolla gekoop en hom ook gehelp om sy bestuurslisensie te kry.
"'n Pa kyk mos na sy kinders," sê Koos trots.
Pieter-John vertel dat die atmosfeer by die werk altyd aangenaam is.
Vir Koos is dit besonders om sy seun nou ook by dieselfde werkplek te hê en te sien hoe die familieband wat sy eie lewe oor byna vier dekades gevorm het, 'n nuwe geslag insluit.
Koos is self die pa van drie kinders.
Hy vertel dat Frans se kinders ook voor hom grootgeword het, en dat hy baie lief vir hulle is.
"Ek het die kleintjies op die kantoorstoele rondgestoot en vermaak," vertel hy laggend, terwyl Frans saamlag oor die herinnering.
Dié band het nie verdwyn toe die kinders grootgeword het nie.
Wanneer Anke Myburgh haar pa bel, is een van haar eerste vrae: "Hoe gaan dit met Koos?"
Koos sê hy is deesdae baie rustiger by die kleiner vulstasie.
Maar aftrede? Dit is blykbaar 'n heel ander storie.
Hy knipoog vir Frans, wat reeds sy standpunt oor Koos se aftrede duidelik gemaak het.
"No way! Hy is dan my broer. Hy gaan nêrens heen nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’