HEIDELBERG NUUS - Die jarelange waterprobleme waarmee inwoners van Heidelberg en Slangrivier worstel, behoort binne die afsienbare toekoms iets van die verlede te wees.
Dit volg nadat die uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, Grant Riddles, Donderdagoggend die eerste sooi vir die bou van ’n nuwe watersuiweringsaanleg op Heidelberg gespit het.
Die nuwe aanleg, wat na verwagting eersdaags in aanbou geneem sal word, sal altesaam R35,169 miljoen kos.
Die projek word deur die Hessequa-munisipaliteit, met gedeeltelike finansiering van die Wes-Kaapse regering, befonds.
Riddles het die seremoniële eerste sooi gespit nadat hy die aanwesiges kortliks toegespreek het.
Benewens Riddles het die onderburgemeester, Gerald Boezak, die speaker, Thinus van der Berg, en die raadslede Betsie van Noordwyk, Abraham Daniels en Jobieth Hoogbaard die geleentheid bygewoon.
Verskeie munisipale amptenare en verteenwoordigers van die boukontrakteur was ook teenwoordig.
Die bouwerk aan die aanleg sal na verwagting binne twee jaar voltooi wees.
Daar word gehoop dat die nuwe aanleg ’n blywende oplossing sal bied vir die voortslepende waterprobleme wat inwoners van Heidelberg en Slangrivier die afgelope paar jaar teister.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’