RIVERSDAL NUUS - Musiek met 'n doel het Donderdagaand 8 Oktober weerklink toe die gewilde Afrikaanse sanger Jo Black saam met Hoërskool Langenhoven se skoolkoor opgetree het om geld vir behoeftige studente se verdere studies in te samel.
Die suksesvolle musiekaand, wat by die hoërskool aangebied is, was 'n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand se Riversdal-tak ten bate van die organisasie se studiefondsprojek in die Wes-Kaap.
Black, wat ook as ambassadeur van Helpende Hand se #HelpJag-projek optree, het die verhoog met die jong sangers gedeel en die gehoor op 'n besonderse musikale reis geneem.
Een van die hoogtepunte van die aand was toe Black en die skoolkoor saam die liedjies "Lig jou oë op na die berge" en "Nooit alleen" uitgevoer het.
Die samewerking tussen die bekende kunstenaar, Hoërskool Langenhoven en Solidariteit Helpende Hand het nie net vir 'n besonderse musiekaand gesorg nie, maar ook 'n waardevolle bydrae tot die organisasie se studiefondsprojek gelewer.
Die geld wat tydens die geleentheid ingesamel is, sal aangewend word om studente in die Wes-Kaap wat nie hul verdere studies kan bekostig nie, finansieel te ondersteun.
Volgens die organiseerders is daar ook reeds aansoeke om studiefinansiering van voornemende studente uit Riversdal ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’