SLANGRIVIER NUUS - Jonay Skietekat, dié dorp en die Hessequa-streek se skoonheidstrots, het gisteraand tydens die eindronde van die Miss Teen Excellency SA-skoonheidskompetisie behoorlik geskitter toe sy met die titel “Best Smile Teen” weggestap het.
Hoewel sy nie as die algehele wenner van die gesogte kompetisie aangewys is nie, het sy met haar sprankelende glimlag die harte van die gehoor én die beoordelaars gesteel en die toekenning vir die mooiste glimlag ontvang.
Jonay is ook as “Miss Western Cape Teen” aangewys.
Dit is voorwaar ’n prestasie waarop nie net sy en haar familie trots kan wees nie, maar ook haar tuisdorp, die Hessequa-streek en die hele Wes-Kaap.
Kort ná die verrigtinge het Jonay ’n video-opname gemaak waarin sy almal wat haar ondersteun het, hartlik bedank het vir hul volgehoue vertroue in haar.
Suid-Kaap Forum sal in ’n volgende uitgawe meer oor Jonay se prestasies berig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’