RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum het op 5 Oktober vir Sonia Wahl, wat as joernalis by die span aansluit, verwelkom.
Wahl is nie ’n vreemdeling in die joernalistieke wêreld nie. In Maart 2021 het sy haar loopbaan as junior joernalis onder Group Editors by Oudtshoorn Courant afgeskop.
’n Raps meer as ’n jaar later, in 2022, het sy die leisels as redakteur van Graaff-Reinet Advertiser oorgeneem.
In Junie 2024 het sy na die Boland verhuis, waar sy haar verder in eiendomsbestuur bekwaam het.
Die Tuinroete en die wêreld van joernalistiek het egter bly roep, en begin Oktober het sy weer na die Suid-Kaap teruggekeer.
Haar seun studeer tans aan die Universiteit van Stellenbosch, en vir haar is dit darem nie te ver weg wanneer sy verlang nie.
Wanneer Wahl nie werk nie, geniet sy dit om te lees en te gaan stap.
Een van die dinge op haar emmerlys is juis om Sleeping Beauty te gaan stap.
“Ek is opgewonde om deel van Riversdal te word,” sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’