STILBAAI NUUS - Daar was rede vir feesviering by Stilbaai-Wes-strand se parkrun op 7 November toe die 250ste byeenkoms en die Niemand-egpaar se 39ste huweliksherdenking saam gevier is.
250ste parkrun
Altesaam 136 deelnemers het aan die mylpaalbyeenkoms deelgeneem.
Michael Hatting was eerste oor die eindstreep met ’n tyd van 21:04, gevolg deur Anton Chevalier in 22:18 en Eugene Terblanche in 22:29.
Huweliksherdenking op ’n drafstap
Die dag was ook besonders vir Karl-Heinz en Sonette Niemand, inwoners van Stilbaai, wat hul 39ste huweliksherdenking as parkrunvrywilligers by dié mylpaalbyeenkoms deurgebring het.
Die egpaar se liefde vir stap is iets wat hulle graag saam uitleef.
Hulle neem saam aan Run/Walk for Life en parkrun deel en is ook by die University of the Third Age (U3A) betrokke.
Volgens die egpaar lê die geheim van ’n lang huwelik daarin om mekaar ten volle te ondersteun, saam deur dik en dun te gaan en nie kwaad vir mekaar te gaan slaap nie.
“Dit help nie jy slaap met ’n dikmond nie.
Dit beteken niks,” is hul raad aan ander paartjies.
Brian Fraser, die fotograaf wat gereeld die deelnemers se parkrunoomblikke afneem, het ook hierdie besondere mylpaal en die egpaar se huweliksherdenking op kamera vasgelê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’