RIVERSDAL NUUS - Die DA het ná die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November sy meerderheid in die Hessequa-munisipaliteit behou, terwyl vier ander politieke partye ook verteenwoordiging op die nuwe munisipale raad verkry het.
Volgens die jongste verkiesingsuitslae wat op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se uitslaepaneel verskyn, het die DA 51,47% van die steun ontvang en nege setels verower.
Die ANC het met 21,3% van die stemme vier setels bekom, terwyl die PA met 12,44% en die VF Plus met 10% elk twee setels verower het.
Die DA se nege setels bestaan uit ses wyksetels en drie setels wat deur proporsionele verteenwoordiging toegeken is.
Die uitslae toon verder dat die People’s Movement for Change (PMC) 2,82% van die steun ontvang het, gevolg deur die Independent Ratepayers Association of South Africa (Irasa) met 0,72%.
Die EFF het 0,29% ontvang, die Cape Independence Party (CapeExit) 0,23%, die SAKP en CCC elk 0,21%, EUPP en Icosa elk 0,1% en die ATM 0,08%. Die UDM het 0,05% ontvang.
Nie een van dié kleiner partye het volgens die jongste syfers ’n setel in die raad verower nie.
Die verkiesing bring ook ’n verandering aan Hessequa se politieke leierskap mee: Gerald Boezak sal Grant Riddles as burgemeester opvolg.
Met die verkiesingsproses afgehandel, verskuif die aandag nou na die nuwe raad se samestelling en die verantwoordelikheid om inwoners se verwagtinge oor munisipale dienslewering, infrastruktuur, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en werksgeleenthede aan te pak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’