Update
HESSEQUA NUUS - Die Demokratiese Alliansie (DA) het sy meerderheid in die Hessequa-munisipaliteit behou nadat al die stemme in Woensdag 4 November se plaaslike regeringsverkiesing getel is.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se verkiesingsdashboard het die DA 51,47% van die stemme op hom verenig en nege setels in die munisipale raad verower.
Die African National Congress (ANC) het met 21,3% van die stemme vier setels bekom, terwyl die Patriotic Alliance (PA) met 12,44% en die Vryheidsfront Plus (VF Plus) met 10% elk twee setels ingepalm het.
Die DA se oorwinning beteken dat die party steeds 'n volstrekte meerderheid in die raad het en sonder die steun van ander politieke partye kan regeer.
Die People's Movement for Change (PMC) het 2,82% van die stemme gekry, gevolg deur IRASA met 0,72%, die Economic Freedom Fighters (EFF) met 0,29% en CAPEXIT met 0,23%.
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SACP) en CCC het elk 0,21% van die stemme ontvang, terwyl die EUPP en ICOSA elk 0,1% behaal het. Die ATM het 0,08% en die UDM 0,05% van die stemme gekry.
Nie een van hierdie kleiner partye het volgens die beskikbare uitslae 'n setel in die munisipale raad verower nie.
Die uitslae bevestig dat die DA met nege van die 17 setels steeds die grootste party in Hessequa is, gevolg deur die ANC met vier setels en die PA en VF Plus met twee elk.
Met 100% van die stemme getel, is die stemtelling afgehandel. Die amptelike verklaring van die verkiesingsuitslae deur die OVK bly die laaste stap in die proses.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’