HEIDELBERG NUUS - Twee van die Hessequa-streek se blinkste sportsterre, Devandré Phillips en Shasha-Lee Amsterdam, maak tans hul merk op die internasionale potspelverhoog met hul deelname aan wêreldkampioenskappe in Engeland en Kaapstad.
Devandré Phillips
Devandré, 'n 15-jarige gr. 9-leerder aan Slangrivier Primêre Skool, is vroeër vanjaar gekies om Suid-Afrika van 20 tot 28 Oktober by die Wêreldpotspelvereniging se o. 18-swartbalkampioenskappe te verteenwoordig.
Die toernooi vind by die Thistle Hotel Heathrow in Engeland plaas.
Volgens sy pa, David Philander, wat self 'n kranige potspelspeler is, beoefen Devandré die sport al ongeveer agt jaar en speel hy gereeld vir die senior span van die plaaslike Tiger Shooters-potspelklub.
Philander vertel dat hy besluit het om Devandré vanjaar vir die Westelike Provinsie se o. 18-swartbalproewe in te skryf.
Ná sterk vertonings is hy gekies om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig.
Hoewel Devandré nie so goed vaar as waarop daar gehoop is nie, glo sy trotse pa dat die ervaring vir hom van groot waarde sal wees, veral omdat hy teen ouer spelers moet meeding.
Devandré word Sondag terugverwag, waar daar ongetwyfeld 'n heldeverwelkoming op hom wag.
Shasha-Lee Amsterdam
Amsterdam het op haar beurt geen bekendstelling nodig nie.
Sy speel reeds sedert agtjarige ouderdom potspel en het haar deur die jare as een van die streek se voorste spelers gevestig.
Sy is weereens deel van die Proteaspan wat tans aan die Internasionale Swartbalfederasie (ISF) se wêreldkampioenskappe in Kaapstad deelneem.
Die toernooi duur van 23 Oktober tot 1 November.
Amsterdam was in November 2024 ná haar deelname aan die wêreldkampioenskappe in Malta nommer een op die wêreldranglys.
Met haar terugkeer uit Malta is sy destyds met 'n heldeverwelkoming in haar tuisdorp ontvang.
Tydens 'n telefoniese gesprek met Suid-Kaap Forum het sy haar vertroue uitgespreek dat sy goed in die enkel- en dubbelspel sal vaar.
Sy en haar dubbelspelmaat, Deonette Jonkers van Worcester, het Dinsdag 27 Oktober aan die kwarteindronde deelgeneem.
Amsterdam het ook gesê dat die Suid-Afrikaanse vrouespan baie goed gevaar het en op daardie stadium die eerste plek beklee het.
Voor hul vertrek het Gerald Boezak, onderburgemeester en wyksraadslid, namens die Hessequa-munisipaliteit finansiële bydraes aan albei spelers oorhandig.
Heidelberg se kampioenpotspelspeler, Shasha-Lee Amsterdam, in aksie tydens die Internasionale Swartbalfederasie se wêreldkampioenskappe in Kaapstad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’