RIVERSDAL - Twee eerste plekke en verskeie podiumplekke het Hoër Landbouskool Oakdale gehelp om die sewende plek onder 32 seunspanne by die Curro Podium Suid-atletiekbyeenkoms op Stellenbosch te behaal.
Die skool se top-14-atlete het die naweek aan dié byeenkoms deelgeneem, terwyl nog 25 Oakdale-atlete hul staal by die Bredasdorp Top-10-atletiekbyeenkoms gewys het.
Op Stellenbosch het Juann Muller (o. 15) die hamergooi met ’n afstand van 58,01 m gewen. Lihan Lategan (o. 15) het op sy beurt die eerste plek in spiesgooi met ’n afstand van 63,98 m ingepalm.
CB Strydom (o. 15) het twee persoonlike beste tye aangeteken. Hy was derde in die 300 m-hekkies in 40,33 sek. en sesde in die 100 m-hekkies in 13,48 sek.
Delano Rensburg (o. 17) het ook ’n persoonlike beste prestasie in hoogspring behaal toe hy met ’n hoogte van 1,95 m derde geëindig het.
Op die baan was Jadrean Prins (o. 17) derde in die 400 m en sesde in die 200 m, terwyl Dirk Swart (o. 17) sewende in die 400 m-hekkies geëindig het.
Luan Faber (o. 17) was derde in gewigstoot en sesde in diskus. Ajay Taute (o. 15) het die agtste plek in gewigstoot behaal, Jordan Walters (o. 15) was derde in hamergooi en Zach Olivier (o. 17) vyfde in spiesgooi.
Oakdale se Sweedse aflosspan, bestaande uit CB Strydom, Luan Augustyn, Andrew Jonker en Jadrean Prins, het vierde geëindig.
Bredasdorp Top-10-byeenkoms
By die Bredasdorp Top-10-byeenkoms is Nicholis Fourie as die beste o. 15-veldatleet aangewys. Hy het die gewigstoot gewen en vyfde in diskus geëindig.
Bouwen Schellingerhout (o. 14) het die eerste plek in hamergooi behaal. Ruben van Heerden (o. 14) was tweede in diskus en vyfde in gewigstoot, terwyl Etienne Gouws (o. 14) derde in diskus geëindig het.
Tiaan Kotzé (o. 14) het die tweede plek in spiesgooi behaal en Jason Nel (o. 15) die vyfde plek. Wian Joubert (o. 14) was vierde in hoogspring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’