RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal Blues het Saterdag 24 Oktober gewys wie die baas op die rugbyveld is toe hulle hul plaaslike teenstanders, Riversdal Dorp, met 46 - 37 in die tweede been van die Bragging Rights-toernooi geklop het.
Met dié oorwinning het die Blues die gesogte Bragging Rights Cup behou en weer eens hul aanspraak op plaaslike rugbyoorheersing bevestig.
Die kragmeting tussen die twee Riversdalse rugbyklubs het vir groot opwinding gesorg, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het om met die spogregte weg te stap.
Die Blues het reeds op Saterdag 3 Oktober die eerste been van die toernooi gewen toe hul A-span met 29 - 19 oor Dorp geseëvier het.
Hul B-span het destyds met 30 - 0 gewen, terwyl die C-span met 29 - 12 koning gekraai het.
Die tweede been het weer eens die passie vir rugby op Riversdal beklemtoon en ondersteuners van albei klubs bymekaargebring.
Ná afloop van die wedstryd is die Blues se spelers en afrigters gelukgewens met hul prestasie.
Die organiseerders het ook hul waardering uitgespreek teenoor Riversdal Dorp vir hul deelname, asook die borge en ondersteuners wat tot die sukses van die toernooi bygedra het.
Die hoop is uitgespreek dat die Bragging Rights-toernooi ’n jaarlikse instelling op Riversdal sal word en in die toekoms nog groter sal groei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’