RIVERSDAL NUUS - Die rugbykoors gaan more, Saterdag 24 Oktober, weer hoog loop wanneer Riversdal Dorp en Riversdal Blues mekaar in die tweede been van die gewilde Bragging Rights Cup die stryd aansê.
Ná die eerste been op 3 Oktober, waarin die Blues al drie wedstryde gewen het, sal Dorp alles in die stryd werp om die bordjies te verhang en hul aanspraak op die dorp se rugbytrots te maak.
Die Blues het in die eerste been met 29 - 19 in die A-spanwedstryd koning gekraai, terwyl hul B-span met 30 - 0 en C-span met 29 - 12 geseëvier het.
Saterdag se rugbyaksie skop om 12:30 met die A3-spanne af, gevolg deur die A2-spanne om 14:00. Die Ou Kroks pak mekaar om 15:10, voordat die hoofwedstryd tussen die twee klubs se A-spanne om 16:00 begin.
Met die Bragging Rights Cup op die spel, beloof dit om weer ’n dag van strawwe mededinging, plaaslike rugbytrots en groot opwinding vir ondersteuners te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’