SLANGRIVIER NUUS - Sy het nie duur rokke of professionele afrigters gehad nie, maar wel 'n droom, geloof en die moed om dit na te jaag.
Jonay Skietekat (19) van Slangrivier het Saterdagaand 10 Oktober bewys dat groot drome nie deur 'n mens se omstandighede of die grootte van jou tuisdorp bepaal word nie.
Met die titels Miss Teen Western Cape en Best Smile Teen by die Miss Teen Excellency SA 2026-skoonheidskompetisie het dié jong vrou nie net haarself nie, maar ook haar gemeenskap rede gegee om trots te wees.
Jonay het met haar sprankelende glimlag die harte van die gehoor én die beoordelaars verower en die titel Best Smile Teen ingepalm.
Sy is ook as Miss Teen Western Cape aangewys.
Hoewel sy nie as die algehele wenner gekroon is nie, het daar nóg goeie nuus op haar gewag.
Terwyl sy en haar trotse ma, Caroline, per bus op pad terug na Slangrivier was, het Jonay 'n WhatsApp-boodskap ontvang waarin bevestig is dat sy as finalis vir Miss Teen Provincial SA 2027 gekwalifiseer het.
Dit is 'n besonderse prestasie vir dié plat-op-die-aarde jong vrou, wat haar wortels in die stofstrate van Slangrivier koester.
Op Dinsdag 13 Oktober het haar talle ondersteuners in haar tuisdorp vir haar 'n ere-verwelkoming gehou.
Sy het eers haar voormalige laerskool, Slangrivier Primêr, besoek, waarna rdl. Jobieth Hoogbaard, een van haar grootste ondersteuners, haar deur die strate van die dorp geneem het.
Jonay het soos 'n ware koningin deur die dakopening van die motor vir die talle geesdriftige ondersteuners gewaai en soentjies geblaas.
Gevra watter impak haar deelname aan die nasionale kompetisie op haar gehad het, het Jonay spontaan vertel dat sy steeds sukkel om te besef dat sy, 'n meisie van die stofstrate van Slangrivier, die geleentheid gekry het om haarself op die nasionale verhoog bekend te stel.
"As 'n dogter van 'n klein gemeenskap waar geleenthede min is, het ek baiekeer getwyfel of ek goed genoeg is.
Ek het geen duur rokke of professionele afrigters gehad nie, net 'n droom en geloof," het Jonay gesê.
"Tydens die kompetisie het ek geleer om my stem te gebruik, om te glimlag selfs wanneer ek bang is en om trots te wees op waar ek vandaan kom.
"Die ander deelnemers het my van susterskap geleer en die verhoog het my selfvertroue gegee.
Ek het Saterdagaand met die titels Miss Teen Western Cape en Best Smile Teen weggestap, maar my grootste prys is die meisie wat ek intussen geword het," het sy gesê.
Sy het 'n spesiale boodskap aan elke meisie wat in 'n klein dorpie woon: "Jou drome is geldig.
Wie nie waag nie, sal nooit weet of wen nie."
Jonay se prestasies het ook groot lof op sosiale media ontlok.
Haar voormalige hoërskool, Hoërskool Heidelberg, waar sy verlede jaar gematrikuleer het, het haar prestasies op sy Facebook-blad gedeel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’