SLANGRIVIER NUUS - Groot verligting het vanoggend deur Slangrivier gespoel nadat die agtjarige Matthew Junior (MJ) Scholtz, na wie inwoners en die polisie sedert Woensdagaand naarstiglik gesoek het, veilig gevind is.
MJ is vanoggend, Donderdag 8 Oktober, kort ná 07:00 in ’n Wendyhuis by sy ouma se woning gevind.
Na verneem word, het MJ Woensdagmiddag, nadat hy sy ouma se huis verlaat het, in die Wendyhuis geklim en daar aan die slaap geraak.
Die Wendyhuis is intussen gesluit, sonder dat iemand besef het dat hy daarin was.
Toe die Wendyhuis vanoggend oopgesluit is, is MJ ongedeerd binne aangetref.
Die ontdekking het ’n einde gebring aan ’n ure lange soektog nadat MJ Woensdag omstreeks 17:00 vermis geraak het.
Talle inwoners het Woensdagaand by die soektog aangesluit en die polisie het deur die nag die gebied gepatrolleer.
’n Groter soektog sou vanoggend met dagbreek hervat word.
Verskeie rolspelers en nooddienste het gereed gestaan om ingespan te word.
MJ se veilige terugkeer het groot verligting gebring ná ’n spanningsvolle nag vir sy familie en die Slangrivier-gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’