MALGAS NUUS - Die brand wat woongebiede in Malgas, onder meer Riverine, bedreig het, is oornag gestabiliseer.
Daar is tans geen verdere bedreiging vir dié woongebiede nie, volgens ’n opdatering van Reinhard Geldenhuys, brandweerhoof van die Overberg-distriksmunisipaliteit, om 07:30 vanoggend.
Die goeie nuus volg nadat 22 huise gister in Riverine, een in Lemoentuin en een in die Potberg-kompleks deur die brand verwoes is.
Die brand het na raming sowat 25 000 hektaar gebrand.
Brandbestrydingspanne werk steeds aan verskeie fronte.
Een van vandag se prioriteite is om die oorblywende brandaktiwiteit noord van Infantaweg te monitor en te beheer.
Dit kan steeds individuele eiendomme langs die rivier bedreig.
Pogings duur voort om te keer dat die brand na Infanta en Sandhoogte versprei. Panne monitor ook die teenbrande langs Infantaweg in die rigting van die Sandhoogte-afdraai, asook die teenbrand vanaf Sandhoogte see toe wat deur CapeNature gelei word.
Omvangryke nabluswerk word langs die brandlyne voortgesit, onder meer in die De Hoop-natuurreservaat.
Geldenhuys het bevestig dat daar nie meer ’n brand in die Diepkloof-gebied is nie.
Die brandbestrydingspoging behels grondeienaars, vrywilligers, goFPA, die departement van bosbou, visserye en die omgewing se Working on Fire-spanne, CapeNature, die Overberg-distriksmunisipaliteit en ander rolspelers.
Inwoners word gewaarsku om waaksaam te bly, instruksies van nooddienste te volg en amptelike kommunikasiekanale dop te hou.
Vuur en rook kan steeds oor ’n groot gebied sigbaar wees. Die brandbestrydingswerk is nog nie afgehandel nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’