HEIDELBERG NUUS - Op net 11-jarige ouder-dom het Ciara Riddles van Hoërskool Heidelberg reeds haar merk in die skaakwêreld gemaak.
Sy is tans die tweede beste vroulike speler in Eden en beklee die tweede plek in haar ouderdomsgroep in Suid-Afrika.
Ciara, wat op 20 November haar 12de verjaarsdag vier, is 'n gr. 6-leerder aan Hoërskool Heidelberg.
Haar belangstelling in skaak het tydens die Covid-19-inperking begin toe haar ma haar aan dié spel bekendgestel het.
Die nuwe tydverdryf het gou in 'n groot passie ontwikkel.
Sy neem sedert 2022 aan die Internasionale Skaakfederasie (Fide) se gegradeerde toernooie deel en speel reeds sowat vyf jaar.
Haar inspirasie is Gukesh Dommaraju, 'n Indiese grootmeester wat volgens haar weens sy kalmte, fokus en deursettingsvermoë uitstaan.
Ciara se skaakafrigter, Cohen-Lee Joseph van Albertinia, help haar met die voorbereiding vir toernooie.
Weens die afstand tussen hulle oefen hulle hoofsaaklik aanlyn.
Voor toernooie ontvang sy twee tot drie keer per week afrigting, waartydens hulle op nuwe tegnieke en die regstelling van foute fokus.
Sy gebruik ook YouTube-video's en aanlyn skaak om haar spel verder te ontwikkel.
Van die dinge wat sy die meeste van skaak geniet, is om nuwe taktieke aan te leer en vriende te maak met ander spelers wat dieselfde passie deel.
Sy beskou elke wedstryd as 'n geleentheid om te leer, veral wanneer sy teen sterker teenstanders speel.
Deelname
Een van Ciara se hoogtepunte vanjaar was haar deelname aan die Wes-Kaap Kings and Queens-kampioenskap.
Slegs die twee beste meisies en seuns in elke ouderdomsgroep word vir dié kompetisie gekies, en sy was een van die meisies wat die geleentheid gekry het om deel te neem.
Ondanks die sterk kompetisie het sy al ses haar rondes gewen.
Ciara het ook vanjaar aan verskeie ander toernooie deelgeneem, waaronder die Hessequa Skoleskaakproewe 1 en 2, Eden Skoleskaakproewe o. 13, die C-afdeling van die Eden Rapid-kampioenskap, die 2026 Wes-Kaapse Skole se individuele skaakkampioenskap, Eden-skaakproewe 2 vir o. 14-meisies, die Hessequa-ontwikkelingstoernooi, die Heidelberg Ope en die Albertinia Ope.
Ciara is boonop gekies vir die Wes-Kaap-span, wat van 14 tot 16 Desember aan die Mzansi- interprovinsiale toernooi in Bloemfontein gaan deelneem.
Haar grootste skaakhoogtepunt tot dusver was egter verlede jaar toe sy as kaptein van die Wes-Kaap-span in haar ouderdomsgroep aangewys is.
Die span het aan die Mzansi-toernooi in Gqeberha deelgeneem en goud gewen.
Ciara sê dit maak haar trots om reeds so 'n hoë posisie in skaak te beklee, veral omdat sy nooit verwag het om so ver te kom nie.
Dit verg egter harde werk om haar posisie te behou en deurgaans goeie resultate te behaal.
Tydens die onlangse Hessequa-sporttoe-kenningsaand is sy vir die tweede keer as junior sportvrou van die jaar in die primêre skoolafdeling aangewys.
Volgens haar is dié toekenning 'n besonderse erkenning van al die harde werk wat sy insit.
Doelwitte
Ciara se volgende doelwitte is om die titel van junior meester te verwerf en vir die Afrika Jeugskaakkampioenskap te kwalifiseer.
Sy hoop om eendag Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig, hoewel sy besef dat dit baie deursettingsvermoë en voorbereiding sal verg.
Buite skaak fokus sy op haar skoolwerk en huiswerk.
Wanneer daar nie huiswerk is nie, geniet sy dit om tyd saam met haar maats deur te bring.
Ciara skryf haar sukses toe aan die ondersteuning van haar ma, wat geen toernooi misloop nie, asook dié van haar familie, Joseph, en juf. Gretha Conradie.
Vir dié jong skaakspeler is die geheim van sukses eenvoudig: om by haar strategie te hou, uit elke wedstryd te leer en altyd haar beste te lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’