RIVERSDAL NUUS - Dit was Vrydagaand 6 November nie drieë en duikslae wat die aandag getrek het nie, maar styl, selfvertroue en talent toe die Riversdal Blues-rugbyklub ’n modevertoning by die Friendly Hall aangebied het.
Die Riversdal Model Show het deelnemers die geleentheid gebied om hulself op die loopplank model te hou, terwyl familie, vriende en gemeenskapslede saamgetrek het om hierdie plaaslike talent te ondersteun.
Volgens die organiseerders was dit ’n aand vol talent, selfvertroue en gemeenskapsgees.
Sharonique Hendricks is as wenner in die Tiny Tots-afdeling aangewys, terwyl Deverne Paulsen met die titel in die junior meisiesafdeling weggestap het.
Eagon Hendricks is as Junior Mnr. Blues gekroon, Roche Mentoor as Mej. Riversdal Blues en Angelo Prins as Mnr. Riversdal Blues.
Die organiseerders sê ’n soortgelyke geleentheid is etlike jare gelede aangebied, maar daar word nou gehoop om dié modevertoning weer ’n jaarlikse instelling op Riversdal te maak.
Die doel van die geleentheid was ook om plaaslike talent ’n platform te bied en die gemeenskap bewus te maak van die talent wat reeds op hul drumpel beskikbaar is.
Die organiseerders sê inwoners hoef nie elders na talent te gaan soek nie, aangesien daar reeds heelwat potensiaal binne die plaaslike gemeenskap is.
Die sukses van die aand is moontlik gemaak deur die ondersteuning van plaaslike ondernemings en individue wat as borge betrokke geraak het.
Die organiseerders het die borge en almal wat bygedra het bedank.
Volgens hulle het die modevertoning nie bloot oor mode en voorkoms gegaan nie, maar ook oor gemeenskapstrots, samewerking en die bevordering van plaaslike talent.
Die geleentheid het gewys dat die Riversdal Blues-rugbyklub se betrokkenheid by die gemeenskap veel verder as die rugbyveld strek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’