RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale staan aan die vooraand van 'n nuwe hoofstuk in sy geskiedenis nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) aangekondig het dat die skoolhoof, Willem du Buisson, aan die einde van 2026 ná vyf jaar in die pos gaan uittree.
Die aankondiging is Dinsdag 3 November in 'n amptelike skrywe aan ouers, oud-Oakdalers, leerders en die groter Oakdale-familie bekend gemaak.
Die brief is gesamentlik deur Du Buisson en die beheerliggaamvoorsitter, Jac Saayman, onderteken.
Volgens die skrywe het die WKOD reeds met die proses begin om 'n nuwe adjunkhoof by die skool aan te stel.
Die persoon wat in dié pos aangestel word, sal na verwagting gedurende die eerste ses maande van 2027 as waarnemende skoolhoof optree.
Verdere gesprekke tussen die skool en die WKOD sal binnekort plaasvind om die oorgang en die pad vorentoe vir 2027 te bespreek.
Die aankondiging beteken dat Oakdale, wat in 2028 sy eeufees vier, 'n nuwe leierskapfase betree terwyl die skool hom vir dié belangrike mylpaal voorberei.
In die brief word 'n beroep op ouers, oud-Oakdalers en ondersteuners gedoen om die bestuurspan en personeel gedurende die oorgangstydperk te ondersteun.
Die skool het nie in die skrywe verdere besonderhede oor Du Buisson se vertrek of sy opvolger bekend gemaak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’