RIVERSDAL - Daar was oral kleur, vrolikheid en groot glimlagte toe die Small Dreams Spesialebehoefteopvoedkunde-dagsorgsentrum onlangs ’n heerlike kleurpiekniek saam met sy buurskole, laerskole Volschenk en Voorwaarts, gehou het.
Volgens Patricia Pieterse, ’n onderwyser by Small Dreams, was dit ’n besonder aangename dag waartydens die kinders en onnies saam aan verskeie prettige speletjies deelgeneem het.
Die opvoeders het ook met groot geesdrif deelgeneem en gehelp om die dag ekstra spesiaal te maak.
Die kleurpiekniek het aan almal die geleentheid gebied om saam te speel, te lag en nuwe herinneringe te skep.
Small Dreams se doelwit is om kinders met intellektuele gestremdhede ’n veilige en opvoedkundige omgewing te bied waar hulle kan leer, groei en hul volle potensiaal bereik.
Tammy Kleyhans, Small Dreams se hoof, nooi ouers of voogde van kinders met gestremdhede wat by die sentrum wil aansluit om gerus vir meer inligting kontak te maak. Skakel haar by 082 898 4246 of Pieterse by 078 914 5119.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’