RIVERSDAL NUUS - Na byna 27 jaar in die polisiediens staan kapt. Marlon Hartnick aan die hoof van Sigbare Polisiëring (Vispol), waar hy hom daarop toespits om die goeie verhouding tussen die polisie en die gemeenskap verder uit te bou.
Hartnick is op 1 Oktober amptelik as Vispol-hoof in Riversdal aangestel, en terselfdertyd van adjudantoffisier tot kaptein bevorder.
Hy het in 2000 sy opleiding aan die polisiekollege in Pretoria voltooi.
Daarna is hy na Prins Albert en later Fraserburg verplaas. In 2013 het hy by George se Conville-polisiestasie aangesluit, en dit was hier waar hy die opleidingsgeleenthede wat die polisiediens bied ernstig begin benut en geleidelik deur die range gevorder het.
Dienslewering is vir Hartnick van groot belang.
Daarom het hy ook dié visie van die begin af aan sy span oorgedra, dat hulle daar is om die publiek te dien en die gemeenskap se veiligheid eerste te stel.
"Om verhoudings met die gemeenskap te bou is vir my uiters belangrik.
Die gemeenskap is ons oë en ore. Ek weet ons gemeenskapspolisiëringsforum en buurtwagte is goed gevestig en dat die polisie uitstekende verhoudings met hierdie instansies handhaaf.
Ek weet ons gaan vorentoe goed saamwerk," sê hy.
Hartnick sê dat hy reeds met die instansies kennis gemaak het om die grondslag vir voortgesette samewerking te lê.
Opleiding en die ontwikkeling van ander polisiebeamptes lê hom ook na aan die hart.
Hy het deur die jare verskeie kollegas opgelei, en sê dit gee hom groot voldoening wanneer iemand dan floreer en in hul loopbaan uitstyg.
"Ek wil vir ander wys dat dit moontlik is om dit te doen wanneer jy die geleenthede wat gebied word aangryp," sê hy.
As Vispol-hoof van Riversdal is Hartnick daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat sigbare polisiëring doeltreffend funksioneer en dat beamptes aktief by misdaadvoorkoming betrokke is.
Hy sien daarna uit om saam met sy span die bestaande verhoudings met die gemeenskap verder te versterk en te verseker dat hulle as eerste reageerders hul rol vervul om die gemeenskap te beskerm en te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’