RIVERSDAL NUUS - Vir Johan Oosthuizen (82), 'n inwoner van die Tehuis Ou Meule, is stemdag veel meer as net die kans om 'n kruisie op 'n stembrief te trek.
Dit is 'n reg en 'n waarde wat hy van kleins af by sy ouers geleer het en steeds met trots uitleef.
Oosthuizen het op 2 November tydens die spesiale stemproses in die tehuis se sitkamer sy kruisie getrek.
Hy beskryf die ervaring as besonder aangenaam en sê alles het seepglad verloop.
"Dit was baie georganiseerd. Daar was twee stempunte. Ons het daar aangekom en kon sit totdat ons name geroep is om te stem. Ons het glad nie lank gewag nie," vertel hy.
Volgens Oosthuizen kon inwoners wat nog in staat was om te stem dit doen.
Hy sê die organiseerders het ook ekstra moeite gedoen om seker te maak dat die inwoners wat nie mobiel is nie deur die verpleërs per rolstoel na die stemlokaal gebring is waar hulle dan kon stem.
"Hulle het na die siekeboeg gegaan om die persone wat hulp nodig gehad het om te beweeg, te help. Almal kon stem."
Die stemproses het Oosthuizen ook laat terugdink aan sy kinderjare, toe stemdag 'n heel ander atmosfeer gehad het.
Hy onthou die dae toe Geloftedag en die gepaardgaande feesvieringe nog deel van die gemeenskap se tradisies was, met feesvieringe voor en ná die verkiesing.
Hoewel die tye verander het, meen hy die basiese stemproses het nie veel verander nie.
"Die kiesers se name was op 'n lys. Hulle het hul stembriewe ontvang, hul kruisie in die stemhokkie getrek en die stembrief in die stemboks geplaas," sê hy.
Dat Oosthuizen steeds stem is vir hom vanselfsprekend.
"My ma en pa het my so geleer. Stem is my persoonlike reg," sê hy.
Noudat hy sy stem uitgebring het, hoop Oosthuizen dat die party wat die verkiesing wen aandag sal gee aan die instandhouding van strate, geboue en infrastruktuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’