GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Heidelberg United Krieketklub het Saterdag sy eerste wedstryd in die SWD-Reserweliga met ses paaltjies teen Mayflower Krieketklub verloor.
Dit was United se eerste ligawedstryd ná sy relegasie uit die Promosieliga verlede seisoen.
United het die loot gewen en eerste gekolf, maar is vir slegs 83 lopies in 29,4 boulbeurte uitgehaal.
Mayflower het die wentotaal van 84 lopies binne 14,4 boulbeurte bereik, met vier paaltjies plat.
Ondanks enkele omstrede beslissings en veldwerkfoute kan United moed skep uit die vertonings van sy jong spelers, veral die 14-jarige Morné du Preez.
Du Preez het Mayflower se openingskolwer, Rayner Treurnicht, skoongeboul nadat hy 52 lopies van 44 balle, insluitend agt viere, aangeteken het.
United speel komende Saterdag tuis teen Melkhoutfontein Krieketklub en sal op sy vertoning moet verbeter om sy eerste ligasege te behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’