HEIDELBERG NUUS - ’n Nagmerrie vir ’n bejaarde egpaar in Heidelberg het Donderdagoggend in ’n polisielokval geëindig nadat ’n vermeende inbreker die 73-jarige man gebyt, sy vrou se selfoon gesteel en later R600 geëis het om dit terug te besorg.
Reagan Fanie (23) het Vrydagoggend 20 November vlugtig in die Heidelberg-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte wat verband hou met die voorval.
Volgens sers. Keeno Fredericks, plaaslike polisiewoordvoerder, het die verdagte Donderdag 19 November omstreeks 03:00 na bewering by die egpaar se woning in Middletonstraat ingebreek.
Die egpaar is onderskeidelik 73 en 71 jaar oud.
Tydens die voorval het die verdagte na bewering die bejaarde man gebyt voordat hy met die vrou se selfoon op die vlug geslaan het.
Die man moes mediese behandeling vir sy bytwond ontvang.
Die voorval het egter ’n onverwagse wending geneem toe die verdagte later dieselfde oggend die man se selfoon gebel en R600 geëis het in ruil vir die gesteelde toestel.
Die egpaar het die polisie van die oproep en die verdagte se eis ingelig, waarna ’n plan beraam is om hom vas te trek.
Volgens Fredericks is die verdagte by die afgespreekte ontmoetingsplek in hegtenis geneem terwyl hy op die klaer gewag het om die geld te oorhandig.
Fanie het Vrydagoggend op verskeie aanklagte wat met die beweerde inbraak, diefstal en aanranding verband hou, in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die saak is tot Dinsdag 24 November vir verdere ondersoek uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’