HEIDELBERG NUUS - Ná bykans drie dekades langs sportvelde, waar hy die oorwinnings, teleurstellings en prestasies van plaaslike sportlui met sy pen vasgevang het, het Clive Pretorius, Suid-Kaap Forum se jarelange sportkorrespondent in Heidelberg, besondere erkenning ontvang toe hy as Hessequa se sportjoernalis van die jaar aangewys is.
Pretorius, wat reeds sedert ongeveer 1996/97 as vryskutjoernalis vir Suid-Kaap Forum werk, het oor die jare ’n belangrike rol gespeel om veral Heidelberg se sportprestasies onder die aandag van die breër gemeenskap te bring.
Sy betrokkenheid by die koerant het begin in die tyd ná die tragiese moord op Alet Roux, ’n gebeurtenis wat hy steeds as ’n tydsmerker vir die begin van sy joernalistieke loopbaan onthou.
Pretorius se passie vir sport strek egter veel verder as bloot die skryf van wedstrydverslae.
Hy was onder meer betrokke by die stigting van Heidelberg United Krieketklub nadat die span suksesvol aan die Werner Esau-ses-aan-’n-kant-toernooi in Riversdal deelgeneem het.
Hy het in 1999 die klub se eerste voorsitter geword en dié posisie vir meer as twee dekades, tot ongeveer 2021/22, beklee.
Van die hoogtepunte in sy joernalistieke loopbaan sluit die dekking van Heidelberg United se eerste SWD-krieketpromosieligakampioenskap in die 1999/2000-seisoen in. Die klub het dié prestasie reeds in sy eerste seisoen behaal.
Hy was ook daar om United se tweede kampioenskap in die 2003/04-seisoen te dokumenteer.
Op die rugbyveld het Pretorius eweneens verskeie geskiedkundige oomblikke meegemaak en daaroor berig.
Een van die hoogtepunte was Heidelberg se sukses in die SWD-rugbyunie se Presidentsliga in 2017, wat aan die klub promosie na die Premierliga besorg het.
In 2024 het hy ook berig oor Heidelberg se prestasie toe die klub die Premierliga-titel met Grootbrakrivier gedeel het.
Nog ’n instelling op Heidelberg se sportkalender wat oor die jare gereeld deur Pretorius gedek is, is die dorp se jaarlikse sportdag. Buiten die onderbreking van twee jaar weens die Covid-19-pandemie, het hy dié geleentheid deur die jare gevolg en die prestasies van plaaslike sportlui opgeteken.
Sy aanwysing as sportjoernalis van die jaar is ’n besondere mylpaal in ’n loopbaan wat gekenmerk word deur sy jarelange betrokkenheid by gemeenskapsport.
Vir Suid-Kaap Forum is dit ook ’n trotse oomblik om te sien hoe een van die koerant se eie korrespondente erkenning ontvang vir sy bydrae tot sportjoernalistiek in Hessequa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’