HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit waarsku inwoners en ondernemings teen swendelaars wat hulle telefonies kontak en voorgee dat hulle namens die munisipaliteit optree.
Volgens die munisipaliteit beweer die bedrieërs dat die munisipaliteit se bankbesonderhede verander het en versoek hulle dat betalings voortaan in ’n nuwe bankrekening gedoen word.
Die munisipaliteit beklemtoon dat sy bankbesonderhede onveranderd gebly het en maan inwoners en ondernemings om uiters versigtig te wees vir sulke oproepe.
Inwoners word aangeraai om bankbesonderhede altyd met dié op hul amptelike maandelikse munisipale rekeningstaat te vergelyk en nooit betalings in onbekende bankrekeninge te doen nie.
Enige verandering aan bankbesonderhede wat telefonies deurgegee word, moet eers direk by die munisipaliteit bevestig word.
Enigiemand wat ’n verdagte oproep ontvang of hul rekeningbesonderhede wil bevestig, kan die munisipaliteit direk by 028 713 8000 kontak, ’n e-pos stuur na [email protected] of hul naaste munisipale kantoor besoek.
Die munisipaliteit doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly en die waarskuwing met ander te deel om te voorkom dat nog mense deur dié bedrogspul benadeel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’