RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit het weereens gewys dat hy onder Suid-Afrika se voorste munisipaliteite tel.
Donderdagaand 1 Oktober het hy vir die tweede agtereenvolgende jaar die derde plek op nasionale vlak by die gesogte Sapoa-toekennings by Sun City in Noord-Wes ingepalm.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, en munisipale bestuurder, Albert de Klerk, het die toekenning tydens die jaarlikse South African Property Owners Association (Sapoa) Municipal Performance Awards in ontvangs geneem.
Die toekennings, wat in samewerking met Ratings Afrika en die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) aangebied word, vereer munisipaliteite wat uitblink in finansiële volhoubaarheid, goeie bestuur en gehalte dienslewering.
Hessequa-munisipaliteit sê dié prestasie bevestig dat sy sukses nie bloot eenmalig is nie, maar die resultaat van jare se verant-woordelike finansiële bestuur, deeglike beplanning en die handhawing van volhoubare infrastruktuur.
In 'n tyd waarin talle munisipaliteite landwyd onder finansiële druk verkeer en met infrastruktuur- en dienslewerings-probleme worstel, word Hessequa se vermoë om gebalanseerde begrotings te handhaaf en terselfdertyd in noodsaaklike infrastruktuur te belê, as een van sy sterkpunte uitgesonder.
Die munisipaliteit skryf sy volgehoue prestasie onder meer toe aan verantwoor-delike begrotingsbestuur, doeltreffende inkomste-invordering, streng uitgawebeheer en deursigtige besluitneming.
Volgens die munisipaliteit gaan die erkenning egter oor meer as gesonde finansies.
Dit beklemtoon ook die belangrikheid van langtermynbeplanning, volhoubare infrastruktuurontwikkeling en verantwoor-delike batebestuur om toekomstige groei en die behoeftes van inwoners te ondersteun.
Die munisipaliteit beskou die toekenning as 'n gesamentlike prestasie waartoe inwoners, ondernemings, gemeenskapsorganisasies, raadslede en munisipale werknemers almal bydra.
Openbare deelname, verantwoordbaarheid en konstruktiewe samewerking speel volgens die munisipaliteit 'n belangrike rol in die handhawing van goeie bestuur.
"Ware sukses word nie gemeet daaraan om net een keer uitnemendheid te bereik nie, maar om dit jaar ná jaar vol te hou.
Hierdie erkenning bevestig dat die Hessequa-munisipaliteit steeds sy belofte van verantwoordelike bestuur, finansiële volhoubaarheid en gehalte dienslewering nakom," lui die munisipaliteit se verklaring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’