ALBERTINIA NUUS - 'n Dohne-merino uit Albertinia het op Erfenisdag gewys dat van Suid-Afrika se lekkerste lamsvleis sommer hier in Hessequa geproduseer word.
Kayla Wasserman is as die Lamb Champs Boland 2026-kampioen gekroon nadat haar Dohne-merino die beoordelaars tydens die smaakbeoordeling beïndruk het.
PK Uys van Robertson het met 'n Dormer tweede geëindig, gevolg deur Nico Kruger van Springfontein in die Vrystaat met 'n Konsortium-merino.
Henk Linde van Nxuba was vierde en Jacques de Villiers van Victoria-Wes vyfde.
Lamb Champs bring boere en verbruikers rondom 'n spitbraai bymekaar met een groot vraag: Wie produseer Suid-Afrika se lekkerste lamsvleis? Vanjaar was die antwoord by die Boland-byeenkoms: Albertinia.
Volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, wys die top vyf dat produsente uit verskillende streke, met verskillende skaaprasse en boerderystelsels, uitstekende lamsvleis lewer.
"Kyk net na daardie top vyf: Albertinia, Robertson, Springfontein, Cradock en Victoria-Wes. Verskillende streke, rasse en boerderystelsels, maar almal produseer uitsonderlike lamsvleis," het Rossouw gesê.
Nog 'n hoogtepunt was die Bokslam-veiling waar Johan van Heerden van Victoria-Wes 'n allemintige R100 000 vir sy Konsortium-merino-lam behaal het.
Die Erfenisdagprogram het ook vermaak deur Henru & Schwabie, Die Heuwels Fantasties, Robbie Wessels en Francois van Coke ingesluit, terwyl die skaapkop-eetkompetisie weer groot belangstelling gelok het.
Volgens Rossouw is die doel van Lamb Champs egter veel meer as bloot vermaak.
Die geleentheid bied aan verbruikers die kans om die produk te proe en terselfdertyd die boere agter die lamsvleis te ontmoet.
Lamb Champs-handelsmerklamsvleis word ook deur Pick n Pay se korporatiewe winkelnetwerk verkoop, wat verdere markgeleenthede vir deelnemende produsente skep.
Die aandag verskuif nou na die eerste Lamb Champs Invitational wat op 31 Oktober by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria beplan word.
Tien Suid-Afrikaanse en 10 Namibiese boere sal na verwagting teen mekaar meeding.
Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in Namibië kan egter 'n invloed op die reëlings hê.
Volgens die organiseerders sal dieregesondheid, bewegingsbeperkings en biosekuriteit voorkeur geniet en sal die formaat aangepas word indien nodig.
Vir Wasserman en Albertinia behoort die Boland-byeenkoms egter een te wees om te onthou - haar Dohne-merino het Hessequa se naam behoorlik tussen Suid-Afrika se voorste lamsvleisprodusente laat pryk.
Wasserman deel haar sukses
Wasserman, die nuwe Lamb Champs Boland 2026-kampioen, sê elke boer het sy eie unieke manier om sy kudde te bestuur en lammers vir die mark af te rond.
"My ooie loop en lam hoofsaaklik in die veld en die lammers bly sowat drie maande by hul ma's.
Daarna word hulle na die voerkraal verskuif waar hulle met voer afgerond word.
"Julian du Plessis en Marius Esterhuizen is my voeradviseurs en besoek my gereeld om raad te gee oor watter voer op daardie stadium die beste is, hetsy vir die diere in die veld of in die voerkraal."
Wasserman en haar man boer sowat 40 km buite Albertinia op Bergfontein aan die voet van die Langeberg.
"My skoonpa het die grond in 2016 gekoop en my man het in 2019, nadat hy gematrikuleer het, saam met hom begin boer. Ons is in 2024 getroud en sedertdien is ek ook op die plaas. Ons boer met granate, vye, 'n Simmentalerstoet, skape en saaigewasse."
Volgens Wasserman is die Dohne-merino se veelsydigheid een van die redes waarom dié ras deel van hul boerdery vorm.
"Die Dohne-merino is 'n dubbeldoel-skaapras wat vir vleis en merinowol ontwikkel is. Die ras is bekend vir sy gehardheid en aanpasbaarheid, vinnige lamgroei en goeie reproduksie."
Sy meen 'n kompetisie soos Lamb Champs bied waardevolle blootstelling aan plaaslike skaapboere en hul produkte.
"Lamb Champs gee ons 'n platform om die gehalte van ons produk en die harde werk agter elke lam aan verbruikers en die bedryf te wys. Dit bring ook boere en verbruikers nader aan mekaar en skep waardevolle blootstelling."
Wasserman glo haar oorwinning kan ook die kollig op ander produsente in Hessequa laat val.
"Hier in Hessequa is daar baie meer produsente as wat verbruikers besef.
Hierdie oorwinning wys dat ons streek en ons boere se produkte op 'n groter platform kan meeding.
"Ek hoop dit inspireer ook ander jong en plaaslike boere om nooit op te gee nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’