HEIDELBERG - Die kleuters van Neskuikentjie Kleuterskool het Vrydag 23 Oktober die geleentheid gekry om meer oor verskillende beroepe en moontlike loopbaankeuses te leer.
Verskeie rolspelers, waaronder die polisie, provinsiale verkeersdienste, Hessequa se beskermingsdienste, gesondheidspersoneel, geestelike leiers en studente wat tans opleiding in vroeëkinderontwikkeling ontvang, het die geleentheid bygewoon.
Claudette Slawers, Neskuikentjie Kleuterskool se hoof, het die onderskeie rolspelers aan die kleuters bekendgestel, waarna hulle meer oor hul beroepe en daaglikse werksaamhede vertel het.
Die kleuters, personeel en studente het vir die geleentheid soos verskillende beroepslui aangetrek.
Onder die uitrustings was dié van polisiebeamptes, verpleegkundiges, ambulanspersoneel, onderwysers en arbeiders.
Dit was duidelik dat beroepe in die polisie, brandweer en gesondheidsdienste onder die kleuters se gunstelingkeuses was.
Nadat die rolspelers hul beroepe aan die kleuters verduidelik het, is almal op heerlike versnaperings getrakteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’