ALBERTINIA NUUS - Op slegs sewejarige ouderdom het Nahum Michaels reeds indrukwekkende prestasies op die skaakbord behaal.
Dié jong skaaktalent het tydens Hoërskool Albertinia se jaarlikse prysuitdeling erkenning ontvang vir sy besondere prestasies, met ’n versameling trofeë en sertifikate wat van sy talent getuig.
Nahum het die Eden-streek by die Wes-Kaapse Skoolskaak se Individuele Provinsiale Kampioenskap 2026 verteenwoordig en was ook as lid van die Eden-skaakvereniging deel van die Wes-Kaapse Skoolskaakkampioenskappe.
Sy toekennings sluit onder meer dié van junior skaakkampioen in. Hy het ook goud ontvang vir sy totale akademiese assesseringspunt, met ’n telling van 24 uit 28, asook verskeie sertifikate.
Hy speel vir die Albertinia-skaakklub se derde span op bord vier en het reeds sy eerste ontwikkelingstoernooi gewen.
Volgens sy ma, Monique, is dit Nahum se eerste jaar van skaakdeelname.
Sy sê dit is besonders om te sien hoe hy binne so ’n kort tydjie die spel leer geniet het en reeds sulke goeie prestasies behaal het. “Skaak het Nahum se lewe in baie opsigte verander en doen wondere vir sy konsentrasie en geduld,” sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’