ALBERTINIA NUUS - Die eerste skuif is gemaak in die 2026 Eden-skaakliga toe skaakspelers van regoor die Eden-streek op 3 Oktober by Hoërskool Pacaltsdorp kragte gemeet het.
Die Hessequa-streek was sterk verteenwoordig deur spelers van Albertinia, Heidelberg, Slangrivier en Riversdal.
Die premierafdeling het vyf rondes afgehandel, terwyl vier rondes elk in die eerste- en tweede afdeling gespeel is.
Die Hessequa-spanne het die eerste been goed aangepak en met ’n aantal sterk uitslae gewys dat hulle hul merk in die liga wil maak.
Albertinia sterk in die premierafdeling
Albertinia A, wat ná ’n suksesvolle 2025-seisoen uit die eerste afdeling bevorder is, het sy eerste seisoen in die premierafdeling sterk afgeskop.
Die span het ses wedstrydpunte op sy kerfstok en beklee tans die derde plek, agter die verdedigende kampioen Mosselbaai A en Conville Knights A.
In die laer afdelings het Albertinia ook gewys dat hulle nie terugstaan nie.
Albertinia F beklee tans die vierde plek in die tweede afdeling met ses wedstrydpunte, terwyl Albertinia D en E ook in dié afdeling meeding.
Heidelberg deel van die stryd in die tweede afdeling
Heidelberg B is deel van die stryd in die tweede afdeling, waar die spanne ná die eerste been naby aan mekaar op die punteleer lê.
Mosselbaai C en D is gelyk met agt wedstrydpunte, en Mosselbaai C loop op grond van spelpunte voor.
Pacaltsdorp B volg met sewe wedstrydpunte, terwyl Albertinia F ses en Conville Knights D vyf het.
Daar lê nog heelwat toernooie in die liga voor en Heidelberg B het dus genoeg geleentheid om sy posisie op die punteleer te verbeter.
Riversdal deel die leiding in die eerste afdeling
Riversdal A het ook die seisoen sterk begin en blaas tans in Oudtshoorn A se nek aan die bopunt telbord in die eerste afdeling.
Ná vier rondes het Riversdal agt wedstrydpunte en 13 spelpunte. Oudtshoorn A het ook agt wedstrydpunte, maar loop die afdeling voor met 14 spelpunte.
Met slegs een spelpunt verskil tussen die twee spanne, beloof dit om ’n interessante stryd om die eerste plek te word namate die afdeling vorder.
Pacaltsdorp A is derde met vyf wedstrydpunte, terwyl George U Knighted A, Albertinia C en Slangrivier A elk vier wedstrydpunte het.
Skaak leer meer as net die volgende skuif
Die eerste been van die liga het nie net oor die wen van wedstryde gegaan nie. Gasspreker dr. Gregorius Muller het met die spelers gesels oor die lesse wat skaak ons oor die alledaagse lewe kan leer.
Hy het die woord CHESS gebruik om vyf beginsels uit te lig:
- Consistency (konsekwentheid): Hou aan om moeite te doen en goeie besluite te neem, selfs wanneer vordering stadig lyk.
- Humility (nederigheid): Respekteer jou teenstander, geniet jou oorwinnings sonder om perspektief te verloor en leer uit jou verliese.
- Exceptional (uitmuntendheid): Probeer altyd jou beste gee en verbeter in dit wat jy doen.
- Strategy (strategie): Dink vooruit en onthou dat besluite wat vandag geneem word, môre se gebeure kan beïnvloed.
- Sacrifice (opoffering): Om soms ’n belangrike doelwit te bereik, beteken dit dat iets op kort termyn prysgegee moet word vir ’n groter beloning later.
Sy boodskap was dat die lesse wat rondom ’n skaakbord geleer word, vorentoe in jou lewe van toepoassing is, lank nadat die skaakstukke weggepak is.
Met die liga nog in sy vroeë stadiums, kan enigiets nog gebeur.
Vir Albertinia A en Riversdal A in die besonder bied die openingsresultate ’n goeie wegspringplek vir die volgende rondes.
Skaakspelers wat plaaslik by die sport betrokke wil raak, kry later vandeesmaand twee geleenthede.
Heidelberg-skaakklub bied op 17 Oktober sy ope toernooi aan. Belangstellendes kan Magda Conradie by 071 365 1440 kontak.
Albertinia-skaakklub bied op 24 Oktober sy ope toernooi aan. Belangstellendes wat by die klub wil aansluit of aan die toernooi wil deelneem, kan die voorsitter van Albertinia-skaakklub, Cohen Lee Joseph, by 068 875 0865 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’