HESSEQUA NUUS - Hierdie streek het sy status as een van Suid-Afrika se voorste kusbestemmings bevestig nadat al ses sy aangewese swemstrande vir die 2026/27-seisoen volle Blouvlagstatus behaal het.
Hessequa-munisipaliteit het ook weer 'n spesiale sertifikaat van erkenning ontvang as die enigste munisipaliteit in Suid-Afrika waarvan al die aangewese swemstrande sedert die instelling van die Blouvlagprogram in die land in 2001 deurgaans volle Blouvlagstatus geniet.
Munisipale bestuurder Albert de Klerk sê die toekenning bevestig die munisipaliteit se verbintenis tot omgewingsbewaring en strandveiligheid, sodat inwoners en besoekers die strande met gemoedsrus kan geniet.
Hy sê die munisipaliteit het vanjaar die tydperk waartydens lewensredders in die vakansieseisoen by die strande aan diens is, tot ses weke verleng om strandgangers se veiligheid verder te bevorder.
Altesaam 14 strande in die Hessequa-, George- en Bitou- munisipale gebiede het vanjaar volle Blouvlagstatus ontvang.
Ses hiervan is in die Hessequa-streek, naamlik Lappiesbaai, Gouritsmond, Stilbaai-Wes, Witsand, Jongensfontein en Preekstoel.
Wat beteken Blouvlagstatus?
Blouvlagstatus is 'n internasionaal erkende omgewingskeurmerk wat toegeken word aan strande wat aan streng vereistes vir onder meer watergehalte, omgewingsbestuur, omgewingsopvoeding, veiligheid en skoon, netjiese geriewe voldoen.
Die vier hoofkategorieë word verder in 33 subkategorieë verdeel om te verseker dat strande aan bepaalde standaarde vir besoekers én die omgewing voldoen.
Die status erken dus nie net die natuurlike skoonheid van 'n strand nie, maar ook die volgehoue werk om dit skoon, veilig en omgewingsvriendelik te hou.
Dit gee toeriste, toerisme-operateurs, seiljagklubs en strandgebruikers die versekering dat bepaalde standaarde gehandhaaf word en help om vertroue by plaaslike en internasionale besoekers te bou.
Volgehoue werk agter die prestasie
Blouvlagstatus word jaarliks toegeken, wat beteken dat elke strand steeds aan die toepaslike vereistes vir die betrokke seisoen moet voldoen.
Deurlopende bestuur en samewerking is daarom noodsaaklik om die standaarde te handhaaf.
André Hansen, spesialis vir vaste afval, openbare fasiliteite en geriewe by Hessequa-munisipaliteit, is verantwoordelik vir die daaglikse instandhouding van die standaarde wat Blouvlagstatus vereis.
Hansen, wat reeds 20 jaar by die Blouvlag-program betrokke is, sê hy is baie trots op die prestasie.
Hy verduidelik dat elk van die ses strande aan al die toepaslike subkategorieë moet voldoen.
Daarbenewens moet minstens 20 watermonsters deurlopend geneem en volledig gedokumenteer word om die status te behou.
Strandgangers kan dus uitsien na nog 'n seisoen waarin hulle Hessequa se kus kan geniet met die wete dat die strande aan internasionaal erkende Blouvlagstandaarde voldoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’