STILBAAI NUUS - Hettie en Gerhard Fourie het Saterdag 3 Oktober ’n besondere mylpaal bereik toe hulle hul 250ste parkrun voltooi het.
Die egpaar, wat sedert 2012 in dié dorp woon, het reeds aan 210 van die onderskeie 229 parkruns in Suid-Afrika deelgeneem.
Elke parkrun strek oor 5 km, en agter dié indrukwekkende prestasie lê jare se deursettingsvermoë, beplanning en ’n liefde vir die buitelewe.
Volgens Hettie verg dit fyn beplanning om gemotiveerd en vasberade te bly, veral wanneer hulle hul doelwit nastreef om parkruns regoor Suid-Afrika te voltooi.
Die Fouries het in 2017 hul eerste parkrun in Hartenbos voltooi.
Destyds het hulle meer op padwedlope gefokus, en die parkrun was ’n kwalifiserende punt vir hul uitdaging van 1 000 km.
Omdat daar nog nie ’n parkrun naby Stilbaai was nie, het hulle aan Hartenbos s’n deelgeneem. Die gogga het hulle egter eers ná die Covid-19-pandemie behoorlik gebyt. Sedertdien het hulle deelname toegeneem.
Hulle het 35 parkruns in 2022 voltooi, gevolg deur 51 in 2023, 47 in 2024 en 53 in 2025.
Teen vroeg Oktober vanjaar het hulle reeds 39 parkruns agter die rug gehad. Hul doelwit is om al die parkruns in Suid-Afrika te voltooi.
Hulle neem ook deel aan die verskillende uitdagings wat op die parkrun-toepassing beskikbaar is. Met die petrolprys wat so gestyg het, is die Fouries se strategie om op ’n sentrale plek tuis te gaan en van daar af die omliggende parkruns aan te pak.
Aangesien Gerhard nog nie finaal afgetree het nie, verg dit egter deeglike beplanning om genoeg tyd vir langer reise in te ruim. Die reise bied ook geleentheid om mense met dieselfde passie te ontmoet.
Hettie vertel dat hulle onlangs weer mense in Wellington raakgeloop het saam met wie hulle voorheen in Mbombela aan ’n parkrun deelgeneem het. “Ons loop oraloor parkrun-maatjies raak,” sê sy.
Hettie en Gerhard het ook al drie parkruns in Namibië en twee in Eswatini voltooi. “Ons beplan om volgende jaar die parkruns in KwaZulu-Natal te voltooi,” vertel Hettie. Van Stilbaai af is die Fouries volgende op pad na die Oos-Kaap om twee parkruns wat onlangs daar begin het, te voltooi. Daarna wag Gauteng.
Wanneer hulle uiteindelik al die parkruns voltooi het, sal dit beslis nie die einde van die pad wees nie. “Ons wil nie op die stoep sit en oud word nie. Ons sal seker weer van voor af begin om al die parkruns te voltooi,” lag Hettie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’