HEIDELBERG NUUS - Die ma en dogter wat na bewering vroeër vanjaar 'n bejaarde paar vermoor het, het Maandag 2 September weer in die hof verskyn.
Sabina Hartnick (54) en haar dogter Annemarie Skietekat (31) het die slagoffers glo die nag van 15 en 16 Februarie vermoor deur hulle met skerp voorwerpe aan te val.
George 'Jors' Michaels (62) en sy vriendin, Elizabeth 'Elie' Rudolph (64) het aan ernstige steek- en snywonde wat hulle in Michaels se huis in Diepkloof toegedien is, beswyk. Die moord word as een van die wreedste in die dorp se geskiedenis bestempel.
Skietekat het aangedui dat sy tydens hul volgende verskyning op 23 September om borgtog aansoek sal doen.
In teenstelling met die twee vroue se eerste verskyning toe die hof volgepak was, het slegs enkele familielede en die oorledenes se bure die hofverrigtinge bygewoon.
Albei is voorheen op moordklagtes skuldig bevind en gevonnis. Hartnick, 'n jaloerse eks van Michaels, dien tans drie jaar tronkstraf uit na sy op 'n vorige klag van aanranding met die opset om Michaels ernstig te beseer, skuldig bevind is.
Lees vorige artikels hier:
- Moordsaak uitgestel
- Bejaarde-moord: Ma en dogter kom voor
- Twee bejaardes is koelbloedig vermoor
- Twee bejaardes vermoor
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'